September 19, 2021

Escape Rooms: ‘n Manier om bietjie te ‘ontsnap’

Verbeel jou… Jy word ontvoer deur ‘n waansinnige psigopatiese wetenskaplike, jy word deel van al die samesweringsteorieë wat die wêreld tot stilstand bring of jy word toegesluit deur Russiese organisasies wat jou graag wil gebruik as ‘n gebreinspoelde wapen. Jy bevind jouself in ’n duikboot wat besig is om te sink of jy is die wrede krimineel wat die geregtigheidsproses betree waar jy die koue, eensame tronklewe kan aanskou.

Charlize Meintjies (28) gesels oor Elude Escape Rooms, ’n plek in Bloemfontein, waar jy jou in enige van die bogenoemde situasies kan bevind en jouself moet bevry.

Charlize, tans die eienaar van Elude Escape Rooms, sê die idee van “escape rooms” het reeds ’n rukkie gelede in ander lande soos China en Europa vlamgevat. “Twee van ons gesinsvriende het in 2016 met Elude begin en my man, Bernard, het hulle so af en toe met elektriese komponente gaan help. Hulle moes as gevolg van omstandighede die besigheid verkoop,” vertel Charlize. “My pa het in daardie stadium leukemie gehad en ek was nog as werknemer by ’n vliegskool betrokke en was ook ’n student met die doel om my vlieglisensie te kry. Hulle het my toe genader om die besigheid oor te koop.”

Charlize vertel dit was ’n moeilike besluit, maar na ’n rukkie se wik en weeg het hulle eindelik besluit om die besigheid oor te koop.

“Escape Rooms is ‘n geleentheid om jouself in ‘n heeltemal ander wêreld te plaas, in ‘n situasie waarvan jy moet ontsnap. Dit was tot dusver ongelooflik om al ons kliënte in aksie te beleef. Die navorsing wat mens doen, die verskeie maniere waarop ‘n mens die kamers interessant kan maak vir elke brein, die verskillende ‘escape rooms’ wat reeds bestaan en die opbou en ondersteuning van elkeen. Dis interessant om elke dag iets nuut te kan leer oor hoe elke persoonlikheid en elke individu deur God met verskillende gawes geskep is, wat in spanwerk elkeen sy eie aandeel tot die suksesvolle ontsnapping kan bring.”

Elude Escape Rooms bied tans verskillende temas: Conspiracy, The Cell/ Mad Scientist, Super Agents, Lockdown en die heel nuutste: Forgotten Holocaust.

Charlize vertel dat hulle tans besig is om ’n nuwe kamer te ontwerp. “Ons bring bietjie spanning na die tafel vir dié een, waar jy jouself gevange vind in die tyd van die Tweede Wêreldoorlog en die geheime, onwettige biochemiese eksperimente.”

Charlize vertel hoe lekker dit vir haar is om te sien hoe verskillende groepe opwinding, intelligensie en ongelooflike spanwerk wys.

“Ons kry ongelooflike entoesiastiese Escape Room-mense, wat reeds vyf kamers of meer gespeel het, wat al op die moeilike vlak kan speel!”

“Die Escape Rooms se spel is verdeel in verskillende ‘clues’ wat basies opgedeel kan word in sensoriese aspekte soos motories, visueel en gehoor. Mense moet aan iets kan vat, bou of voel om iets op te los, of luister na Morsekode en selfs kyk na ‘n sekere ligpatroon. Dit gee dan vir hulle die antwoord wat help om die volgende deel van ‘n ‘clue’ op te los.”

“Ons groot droom is beslis om groter te gaan, maar ongelukkig het Covid-19 se impak op ons en ‘n klomp ander besighede die brieke aangesit, maar net vir nou. Ons het nog te veel idees en stories wat ons vir Bloemfontein wil aanbied om aan deel te neem. Dit is dan soos om in ‘n fliek te lewe vir ‘n oomblik en almal geniet so bietjie nie-alledaagse spanning vir so ‘n uur.”

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *