KWAZULU-NATAL. – Die publiek word gevra om te help soek na Ayanda Dlamini, ‘n 28-jarige dokter, wat sedert Vrydag vermis is. Dlamini is ‘n inwoner van Umlazi.
Reaction Unit South Africa sê in ‘n verklaring die dokter is op die betrokke datum na ‘n onderhoud in Chatsworth. Sy het daarna teruggekeer na Bhamshela, noord van Durban, waar sy as mediese dokter werk. Kort nadat sy by haar werksplek aangekom het, het sy huis toe gegaan omdat sy ongesteld gevoel het. Niemand het sedertdien van haar gehoor nie.
Dokter vermis
Dlamini het ‘n silwer Chevrolet Aveo bestuur met registrasienommer ND 754 052. Die voertuig is die naweek opgemerk toe dit tussen Ballito en Verulam gery het. ‘n Man het na bewering haar motor bestuur terwyl sy en nog iemand agter gesit het.
Daar word verder berig haar familie het ‘n oproep van haar selfoon af ontvang. ‘n Man het toe glo gesê sy het by ‘n lodge in Esenembe ingeboek. Haar selfoon is toe afgeskakel. Haar familie het die inligting opgevolg, maar kon Dlamini nie opspoor nie.
Indien jy enige inligting oor Dlamini het, kontak gerus Reaction Unit South Africa (RUSA) by 086 1234 333.
LEES OOK: Bloed in vermiste Louis de Villiers se bakkie gevind
LEES OOK: KYK: Nando’s dryf spot oor ‘tienling’ in nuwe video
Volg FiNDiT hier vir die nuutste nuus.



