FOTO’S: Jeug maak Burgermonument op Magersfontein skoon

Deel hierdie storie / Share this story

MAGERSFONTEIN. – Meer as 90 lede van die Rapportryersbeweging, Voortrekkers, Landsdiens, FAK, Afriforumjeug en die publiek het saamgespan om Saterdag 20 Augustus die Burgermonument op Magersfontein skoon te maak

Marius Nagel, voorsitter van Danie Theron Rapportryerskorps, sê die terrein rondom die monument was oorgroei met grasse en bosse en het nie ‘n positiewe omgewing vir besoekers geskep nie. Die helpers het op die betrokke dag hulle tyd afgestaan om die gras te sny, uitheemse indringerplante te verwyder en rommel op te tel.

“Plaaslike boere van Modderrivier het ‘n trekker beskikbaar gestel om die gras te sny en struike te verwyder. Die skoonmaak en bewaring van monumente is ‘n prioriteit vir die Rapportryersbeweging, Voortrekkers, Landsdiens, FAK, Afriforumjeug en belangstellendes van die publiek. Dit dra immers by tot die bewaring en bevordering van hul kultuurerfenis.”

Nagel voel die geskiedenis en kulturele erfenisse is besig om verlore te raak, veral vir die jonger geslagte.

“Die bewaring van kultuurgebruike en geskiedkundige gedenkwaardighede is van kritiese belang vir die voortbestaan van kultuurerfenis.”

Nagel het ‘n inligtingspraatjie oor die Slag van Magersfontein en die geskiedenis van die monument op die dag gelewer.

“Vir baie kinders was dit hul eerste besoek aan die monument en kennismaking met die geskiedenis van die Slag van Magersfontein. Deur die bestudering van die name op die monument was daar by baie ‘n band met die verlede en belangstelling in hul gesliedenis en voorgeslagte.

Corrie Bredenhan, van die Voortrekkers, het selfs ou weermaguitrusting aangetrek om deel te wees van die gebeure van die dag .

Die projek is deur die Danie Theron Rapportryerskorps van Kimberley gekoördineer. Die volgende projek is die skoonmaak van die Paardebergmonument op 18 September 2021.

Indien jy ook wil deel wees van die projekte kan jy Marius Nagel by 083 778 9179 skakel.

Foto: Corrie Bredenhan van die Voortrekkers was paraat om te help skoonmaak by die Burgermonument.
Foto: Henko Visser en Corrie Bredenhan het kranse names Afriforumjeug en die Voortrekkers by die Burgermonument gelê.

LEES OOK: Rex is vermis, het jy hom dalk êrens in Kimberley gesien?

Volg FiNDiT hier vir die nuutste nuus.