KWAZULU-NATAL. – Die polisie bied ‘n beloning aan in hulle soektog na ‘n verdagte nadat drie mense doodgeskiet is terwyl hulle in ‘n voertuig in die Pieters-omgewing in Ezakheni gesit het.
Die oorledenes is as Mncedisi Dladla (26), Dima Dladla (30) en Nompumelelo Thwala (24) geïdentifiseer. ’n Moordsaak is by die Ezakheni-polisie vir ondersoek geopen. Die dossier is vir ondersoek na die Politieke Taakspan oorgeplaas. Die ondersoek het gelei tot die inhegtenisneming van vyf verdagtes, Lethukuthula Khumalo (25), Sabelo Madlala (25), Sandile Sibonelo Madlala (32), Thabiso Nkosi (23) en Siyabonga Sikhakhane (29). Hulle word van moord en poging tot moord aangekla.
R20 000 beloning vir soektog na verdagte
Die beskuldigdes is in aanhouding. Die speurderspan doen ‘n beroep op die lede van die gemeenskap om hul te help met die opsporing van Sizwe Madoda Shelembe/Thabethe (28).
Die hof het ‘n lasbrief vir sy inhegtenisneming uitgereik en ‘n beloning van tot R20 000 word aangebied aan enigiemand wat inligting het wat tot sy inhegtenisneming kan lei.
Enigiemand met inligting wat die polisie in hul ondersoek kan help, word versoek om die ondersoekbeampte, kapt. Khumalo, by 082 696 6561 of Crime Stop by 08600 10111 te skakel.
LEES OOK: Sasolburg – man en vrou wreed vermoor
LEES OOK: Vuilste man in die wêreld het 65 jaar laas gebad
Volg FiNDiT hier vir die nuutste nuus.



