Bejaarde paar se seun hou hul gyselaar en steek hul in eie woning

Deel hierdie storie / Share this story

DURBAN.- ‘n Bejaarde paar se seun is gearresteer nadat hy hulle gyselaar gehou en verskeie kere met ‘n mes gesteek het. Die polisie het die 79-jarige pa en 69-jarige ma uit ‘n woonstel gered. Hulle is met verskeie steekwonde na ‘n hospitaal gehaas.

Volgens IOL het die polisie Woensdagoggend tot die bejaarde paartjie se redding gekom waar hulle in hul woonstel op die eerste vloer van ‘n gebou in Dhaliastraat gyselaar gehou is.

Bejaarde paar se seun hou hulle gyselaar en weier toegang vir polisie

Bure het die polisie geskakel toe hulle in die vroeë oggend-ure oproer in die bejaarde paar se woonstel gehoor het.

Rusa se paramedici is gekontak deur die polisie nadat hulle bevestig het die 34-jarige seun het sy ouers gesteek en homself saam met hulle in die woonstel toegesluit. Hy het die noodwerkers toegang tot die woonstel geweier.

Die polisie se gyselaaronderhandelaars kon nie daarin slaag om die seun te oorreed om hulle toegang tot sy ouers te gee nie. Die Polisie se taakmag het deur middel van gedwonge toegang die bejaarde paartjie se woonstel binnegedring tot in die kamer waar die man homself en sy ouers afgesper het.

“Hy was gewapen met ‘n kombuismes waarmee hy sy 79-jarige pa en 69-jarige ma herhaaldelik gesteek het,” het Rusa gesê. Hy is in hegtenis geneem.

Die rede vir die aanval op sy ouers is onbekend. Rusa sê die man ly vermoedelik aan bipolêre gemoedsversteuring, maar dit kon nie bevestig word nie. Die bejaarde paar is na ‘n hospitaal geneem vir verdere behandeling.”

Lees ook: Polisie se provinsiale soek-en reddingspan gee wenke vir waterveiligheid