JOHANNESBURG – ‘n Man wie se vriendin tydens ‘n “kaping” vermoor is, is gearresteer vir haar moord, asook meineed nadat hy deur twee ander vermeende medepligtiges by haar moord geïmpliseer is.
Volgens IOL is die twee verdagtes, Mojaki Phara (24) en Sebongile Soul (26), die 14de Augustus gearresteer vir die moord op Nnini Pule (24). Hulle het toe glo die polisie in die rigting van Pule se kêrel gewys en dié is Donderdag gearresteer. Hy word van moord sowel as meineed aangekla. Die verdagtes het glo Pule se keel tydens ‘n kaping oopgesny.
Kol. Thandi Mbambo van die Vrystaatse polisie sê die kêrel het op 13 Mei vanjaar by die Theunissen-polisiestasie met sy tweejarige seuntjie aangekom om ‘n kapingsvoorval aan te meld.
Hy het aan die polisie verduidelik dat hy, sy seun en sy meisie langs die pad deur twee mans aangeval is, toe hulle op die roete tussen Winburg en Senekal was. Hy het gesê hy kon sy seuntjie gryp en wegkom van die aanvallers, maar hulle het toe met sy meisie weggery.
Na ‘n soektog na sy motor en sy meisie is die liggaam van die 24-jarige Pule in die motor met haar keel oopgesny gevind. “Verdere ondersoeke het gelei tot die arrestasie van die oorledene se kêrel op 19 Augustus by sy ouerhuis op Phomolong, Hennenman,” het Mbambo gesê.
Man binnekort met ander verdagtes in hof
Die man is gearresteer en sal binnekort met die ander verdagtes in die hof op aanklag van moord en meineed verskyn.
Die provinsiale polisiekommissaris, lt.genl. Baile Motswenyane, verwelkom die inhegtenisneming en het waardering uitgespreek vir die ywerige werk van die ondersoekbeampte om die waarheid te ontbloot “agter die sinnelose moord op ‘n jong vrou”.
Lees ook: Man verwurg glo meisie na argument



