Kikker jou kombuis in ‘n japtrap op

Deel hierdie storie / Share this story

Die een vertrek in jou huis waarop jy sekerlik die trotsste moet wees, is jou kombuis. Die kombuis is die hart van die huis, waar daar koffie gedrink en gekuier word. Waar die varsgebakte brood op sy lekkerste ruik. Maar hoe kan jy dié vertrek bietjie opkikker?

Morné Smith (36), timmerman, pa vir sy twee kinders en man vir sy vrou, lewe sy passie vir houtwerk al vir die afgelope 18 jaar uit. Wanneer hy nie houtwerk doen nie, doen hy ook konstruksiewerk.

Wanneer jy jou kombuis wil opknap, is daar verskeie dinge wat jy eers moet oorweeg. Hoe weet jy waar om te begin?

Morné se raad is om eerste na die spasie in die kombuis te kyk. Die uitleg is baie belangrik en dan ook die kleur van die hout, die werksblad en die handvatsels.

Almal het ‘n verskillende prentjie van hoe hulle kombuis moet lyk. Modes verander oornag en dit kan moeilik wees om by te bly. Morné sê die glansborde is deesdae in die mode. “Mense moet onthou, mens kan ‘n kombuis baie modern maak wat jou nie ‘n arm en ‘n been gaan kos nie.”

Van hout kan jy Morné niks vertel nie. Volgens hom is soliede hout die beste om vir kombuiskaste te gebruik. “Dis die sterkste, maar ook baie duur. Deesdae gebruik die mense pershout en supawood. Laasgenoemde een is die beter een, maar altwee moet wegbly van water af.”

Wanneer alles dan klaar mooi oorgedoen is, stop die werk nie dadelik nie. Net soos enigiets anders moet jy die materiaal van die kaste beskerm.

“Moenie dat jou kaste direk op die grond staan nie. Sit dit op plastiekpote en sit vloerlyste voor om die pote weg te steek. Mens kry baie mooi pote en wanneer daar nie vloerlyste is nie, maak dit makliker skoon en water kan nie die kaste beskadig nie. Hou water so ver weg as wat jy kan.”

LEES OOK: Boipelo Awuah se eerste Olimpiese Spele kortgeknip

Volg FiNDiT hier vir die nuutste nuus.