Ockie Fourie (65), bekende DA-raadslid van Wyk 25, sê hy is lief vir Kimberley oor die mense wat hier woon. Hy beskryf Kimberliete as hartsmense, warm mense en omgeemense.
Hy is gebore op 21 Oktober 1955 op die pragtige klein Karoodorpie Victoria-Wes en verhuis in 1965 van daar saam met sy ouers na die plaas Avoco op Douglas by die samevloeiing van die Vaal-en Rietrivier.
Twee seuns ryker
Ockie het by die Noord-Kaaplandse Tegniese Kollege gematrikuleer en het in Januarie 1977 getrou. Hy het tydens die huwelik twee seuns, Ockie Jr. (48) en Emil (28), ryker geword.
Wil ’n verskil maak
“As ’n tegnies-opgeleide persoon beland ek toe in ’n administratiewe hoedanigheid by die destydse Suid-Afrikaanse Spoorweë en Hawens en na 15 jaar van tussen mure vasgevang te wees, bedank ek en betree die private sektor. Vir 18 jaar geniet ek my beroep as konsultant van verskillende maatskappye en deurkruis groot dele van die land. Gedurende 1993 besluit ek om ’n besigheid te begin en dit is ook tydens hierdie onstuimige tye wat ek my genope voel om op politieke gebied betrokke te raak en mee te werk om ’n verskil te maak en samewerking met almal te bevorder.”
Sedert 2007 raadslid
Ockie is sedert 2007 ’n raadslid van die Demokratiese Alliansie en tans wyksraadslid van Wyk 25 wat ‘n groot gedeelte van Beaconsfield insluit, asook Klisserville, Memorial Road Area, Diamand Park, Ronaldsvlei, Diskobolos en Alexanderfontein.
Gunsteling-herinnering
Ockie sê een oomblik wat altyd vir hom uitstaan, is die verowering van die Curriebeker in 1970 teen die magtige destydse Noord-Transvaal (Blou Bulle) met al hulle sterre.
“My stem was dae lank daarna op verlof, maar ek het op die wolke gesweef, want ek het grootgeword in ’n rugby-huis.”
Mal oor Kimberley
“Ek vrek oor Kimberley met al sy wispelturige uiterstes van vrek koud tot vrek warm en die blote gemak waarmee ’n mens binne 15 minute basies van die een punt tot die verste punt kan beweeg.”
“Kimberley se mense is hartsmense, warm mense, omgeemense en baie vriendelike mense wat werklik omgee vir mekaar. Kimberley se mense het oop harte, groter as die Oopmyn en dit is al talle kere bewys met die skenking van ’n magdom water wat versend is na die Wes-Kaap in ’n tydperk van ongekende waternood.”
Kimberliete vat hande
“Tydens die waterkrisisse wat Kimberley ervaar het, het besighede en inwoners deurgedruk, water geskenk, boorgate beskikbaar gestel en mekaar gehelp. Kimberley het weereens hande gevat en ’n konvooi uit die Noorde wat op pad was na die droogtegeteisterde Carnarvon en omgewing is met ope arms buite Kimberley ontvang en deur die dorp vergesel tot by Puma Garage waar ’n menigte mense die konvooi ingewag het en water, voer, kos en wat nog oorhandig is. Ek onthou hoe die trane vryelik uit mense se oë gevloei het, ’n onvergeetlike dag.”
Kimberley, ’n ontwikkelende stad
“Ek sal graag wil sien dat enigeen wat oor vyf jaar Kimberley van ’n afstand af nader alreeds van ver af hyskrane op die horison sal sien. ’n Ontwikkelende stad met paaie sonder slaggate en ’n behoorlike funksionele infrastruktuur.”




