Met die pandemie op ons, het almal geweet die lewe gaan verander, maar min het almal besef net hóé die pandemie hoërskooleerders se toekoms gaan beïnvloed.
Ronsley Sauls (18) is ’n matriekleering by Hoërskool Noord-Kaap, wat in die stad van diamante gebore en grootgeword het. Soos vele ander het hy daarvan gedroom om in matriek vir die eerste span rugby te speel en die laaste jaar van skool saam met sy vriende te geniet.
LEES OOK: Drie dood, een kritiek na verdrinkingsvoorval
Covid maak drome byna onmoontlik
Covid-19 en die koms van die pandemie het egter daardie drome byna onmoontlik gemaak.
Sauls, wat op ses jaar oud sonder sy ouers se wete rugby begin speel het, sê hy is vreeslik dankbaar en bevoorreg om te kan rugby speel. Nadat sy ouers agtergekom het hy speel rugby, het hulle sy grootste ondersteuners en ook sy inspirasie geword.
Ouers sy grootste ondersteuners
“My ouers is my grootse ondersteuners en hulle offer baie op om dit vir my moontlik te maak om rugby te kan speel. Die ondersteuning en liefde wat ek van hulle ontvang, is oneindig. My drome inspireer my om elke oggend op te staan en hard te werk om dit te bereik. Ek wil myself en my ouers trots maak.”
Sauls sê hy oefen van Maandae tot Vrydae en probeer minstens een keer per dag in die gym en op die veld uit te kom sodat hy sy individuele vaardighede kan opskerp.
“Ek is ’n groot ondersteuner van die Nieu-Seelandse skrumskakel, Aaron Smith. Ek hou baie van sy spel en baie van die oefeninge wat ek doen, is gebaseer op wat hy aanbeveel.”
Baie ure en werk
Hy sit ook baie ure en baie werk in sy loopbaan.
“Ek sit baie vroeg oggende en laat aande in. Wanneer baie mense nog snoesig slaap, moet ek halfvier in die oggend opstaan om te gaan oefen. Dit word gevolg deur n langdradige skooldag en dan weer ’n oefensessie in die middag. Baie kere het ek nie vervoer na of terug van die oefening gehad nie en moes ek lang ure wag vir iemand om my te kom kry.”
Covid-19 en die pandemie het egter sy drome en skoolloopbaan baie beïnvloed.
Droom om vir die eerste span te speel
“Wanneer jy as graad agt-seun jou hoërskoolloopbaan begin, droom jy om vir die eerste span uit te draf in daardie spesiale wit trui. Daardie droom het skaars ’n realiteit geword, toe kom Covid. My droom om by die onder 18-Cravenweek te speel en om hopelik die onder 18-SA-skolespan te maak, is onder die mat gevee toe Covid oodaag. Dit is moeilik om blootstelling aan rugby-unies te kry wanneer daar nie mag rugby gespeel word nie.
Covid het groot effek
“As rugbyspeler het dit ’n groot effek gehad op my loopbaan omdat daar geen blootstelling was aan rugby-unies of universiteite nie. As rugbyspeler, mis jy ook op jou laaste jaar van hoërskoolrugby uit. As hoërskoolleerling, veral ’n matriekleerling, is dit baie sleg. Met die onsekerheid van Covid is dit moeilik en is die tyd van leer en onderrig beperk. Daar is nog steeds druk om te presteer, maar ek is bereid om aan te hou om hard te werk. Dit is ook sleg omdat ek nie my laaste jaar met my vriende kan geniet, soos wat ons al lank voor ons in matriek was, beplan het nie.”
LEES OOK: Ma verloor drie seuns op een slag



