OOS-KAAP. – ’n Reeksverkragter is nou agter tralies nadat hy in die Mthatha-hooggeregshof tot ses keer lewenslank gevonnis is.
LEES OOK: Besigheidsman kritiek na hy gesteek en beroof is
Reeksverkragter eers na ses oortredings agter tralies
Sandiso Vani (31) het in Maart 2015 sy eerste slagoffer, ’n 12-jarige meisie wat saam met familie by ’n bushalte gewag het, verkrag. Hy het haar gegryp en na ’n nabygeleë bos gesleep waar hy haar aangerand en verkrag het.
Op 4 Maart 2015 het hy ’n 13-jarige slagoffer, wat skool toe gestap het, met ’n mes gedreig, haar na ’n bos gesleep en haar verkrag.
Medepligtige
Twee maande later, op 3 Junie 2015, het Vani ’n vrou aangeval wat saam met haar kinders op die dorp Magiqweni geslaap het. Hy was in die geselskap van ’n medepligtige, wat nog op vrye voet is. Hulle het die slagoffer geblinddoek en haar om die beurt verkrag.
Vani het kort daarna ’n ander vrou, wat op 23 Junie 2015 op haar dorpie, Njingini, geslaap het, aangeval en verkrag.
Op 19 Augustus 2017 het ’n vrou saam met haar kind en haar neef by hul huis op die dorp Diphini geslaap toe sy wakker word van ’n harde geluid by die kombuisdeur. Sy het twee manspersone in haar huis opgemerk. Hulle het haar aangerand en om die beurt verkrag. Daarna het hulle haar gedwing om kos vir hulle te kook en tee te maak voordat hulle van die toneel gevlug het.
Steel ook tekkies, kontant en selfone
Die laaste voorval was op 1 Oktober 2018, toe die twee mans by die huis waarin ’n vrou by haar 14-jarige dogter geslaap het, ingebreek het. Hulle het die moeder met ’n panga aangerand en haar dogter verkrag voordat hulle met haar tekkies, R1 500 kontant en drie selfone gevlug het.
Skuld erken
Luxolo Tyali, woordvoerder vir die Nasionale Vervolgingsgesag van Suid-Afrika, sê Vani het skuld beken op ses aanklagte van verkragting, waarvoor hy lewenslange tronkstraf vir elk opgelê is. Die hof het hom nog vyf jaar gevonnis op elk van die drie aanklagte van huisbraak met die doel om ’n oortreding te pleeg en 15 jaar weens roof met verswarende omstandighede.
DNA verbind hom aan verkragting na moord
Hy is deur middel van DNA aan al die verkragtings verbind nadat hy in Maart vanjaar skuldig bevind is aan ’n moord wat in 2016 in Centane plaasgevind het. Hy het reeds drie maande van die vonnis van 15 jaar vir die oortreding uitgedien.
Die hof het ook beveel hy sal eers sy vonnis vir die verkragting uitdien nadat hy reeds sy vonnis vir die moord uitgedien het.



