Resepteboek geïnspireer deur grendeltyd

Deel hierdie storie / Share this story

Bekendes, sjefs en tuiskokke het bygedra om die resepteboek, Lockdown Recipes & Stories, die lig te laat sien.

Hierdie opwindende publikasie – ’n inisiatief van Melkbos Rotariërklub – beslaan 114 bladsye en bevat pragtige volkleurfoto’s, watertandresepte en hartverwarmende stories. Dit is meer as net nóg ’n kookboek, want die skrywers wat hulle resepte en stories so onbevange deel, bemoedig lesers in hierdie moeilike tyd waarin ons leef. Suid-Afrikaners is veerkragtig en nie bang om kreatief te wees in krisistye nie. Dít is die boodskap wat hierdie boek uitdra.Clem Sunter, ’n erelid van Melkbos Rotariërklub, skryf dan ook: “Many South African innovations and plans saw the light as we are a resilient nation. These new innovations and work methods will benefit the world at large long after lockdown, just as this recipe book will.”

Gedurende die nasionale grendeltydperk kom gesinne graag in die hart van hul huise oftewel die kombuise bymekaar. Dis asof ons instinktief weet dat kos en ’n vol maag mens meer geborge en veilig laat voel en dan sien ons mos kans vir enigiets. Wanneer potte met kos gesellig prut op die stoof en geurige gebak in die oond pof en bruin word, gesels ons land en sand met mekaar en bring kwaliteittyd deur. Wie geniet dit dan nou nie om saam met hulle hartsmense by ’n tafel aan te sit en heerlik te smul aan geregte wat almal gehelp het om voor te berei nie? En o, om as gesin hande te vat, die hoofde te buig en dankie te sê vir die maaltyd en samesyn vat natuurlik die spreekwoordelike koek! Dit is en bly ’n reusevoorreg.

Lockdown Recipes & Stories is opgedeel in drie afdelings, naamlik “Something light”, “Main meals” en “Sweet things”. Hoewel die boek in Engels is, is die meerderheid bydraers Afrikaanssprekend. Die inhoud vind dus byval by ’n wye gehoor. Ek het ook die gedeelte agter in die boek geniet waar die leser meer insae kry in die rotariërs van Melkbos se verdienstelike aktiwiteite. Rotariërs glo daarin om te alle tye hoë etiese standaarde in mens se besigheid, professie en persoonlike lewe te handhaaf. Hulle deel graag met ander en het ten doel om humanitêre dienste te lewer asook welwillendheid en vrede te bevorder. Hulle is ’n nie-politiese en nie-religieuse organisasie wat oop is vir almal.

Bydraes van onder meer Anna-Mart van der Merwe, Cintaine Schutte, Coenie de Villiers, Lize Beekman, Pedro Kruger, Reuben Riffel, Corné Krige, Vuyo Joboda, Marion Holm en Lea Vivier verseker dat die rotariërs van Melkbos ook in covid-19-tyd kan voortgaan met hulle projekte om bystand aan gemeenskappe te lewer. Lesers wat dié resepteboek aanskaf, sterk letterlik die klub se hande, want die opbrengs uit die verkope word aangewend vir liefdadigheid.

Bertus Basson se melkkos, Hannes van Wyk se souttert, Schalk Bezuidenhout se penne pasta, Wynand Moller se bobotie, Katryn Kruger se Nutella brownies en Godfrey Johnson se piesangbrood is groot gunstelinge in die Viljoens se huis. Eintlik verlei ál 42 resepte mens om op die daad ’n mengbak en klitser uit te haal en te loer watter bestanddele beskikbaar is.

Ek het baie inspirasie geput uit die bydraers se ervaringe gedurende grendeltyd. Cintaine Schutte, ’n aktrise en vervaardiger, skryf byvoorbeeld: “My life was a constant whirlwind. Since lockdown, I’ve been forced to stop chasing the wind. I got a new appreciation for the incredible group of people that support me, love me, and help me keep my feet firmly on the ground. They are a beacon of hope for me, walking beside me and always having my back. I call them my tribe.” Sy deel haar ma se tuna quiche met die lesers.

Bestel jou kopie van Lockdown Recipes & Stories by www.lockdownrecipes.co.za