SUID-AFRIKA.- Talle byeboere in die land ondergaan groot skade weens die plundering van byekorwe deur vermeende heuningdiewe en moedswillige kwaaddoeners. Die skade wat hier aangerig word, het ‘n groot finansiële impak op die boer en dit neem jare om die skade te herstel.
Volgens Senwes het Graig Campbell, eienaar van Midlands Honey in KwaZulu-Natal, onlangs 250 kommersiële byekorwe in ʼn bosbouplantasie verloor nadat dit geplunder is.
Campbell sê die finansiële onkoste om die byekorwe te herbou en die kolonies weer te vestig, gaan jare neem. Hy is bekommerd oor sy werkers wat van hierdie boerdery afhanklik is vir hul inkomste.
Verskeie boere het hulle stemme dik gemaak oor hierdie kwaadwillige beskadiging. Die plundering en beskadiging van byeboere se byekorwe, die diefstal van heuning en die vernietiging van hul swerms is ‘n gereelde verskynsel wat wydverspreid oor die land voorkom.
Volgens Inge Lotter, koördineerder van die Mpumalanga-byegroep, het hierdie voorvalle haar genoop om verlede jaar R100 00 aan die beskerming van haar korwe te spandeer. Dit nadat sy 200 byekolonies en 76 byekorwe verloor het.
Lotter sê ʼn korf en ʼn swerm word saam teen ongeveer R3 000 waardeer, uitgesonder die rame en ander toerusting wat gebruik word.
Byeboere moet hierdie verlies as ‘n besigheidsuitgawe dra, aangesien heuningbye en byekorwe nie deur die Wet op Veediefstal (Wet 57 van 1959) beskerm word nie.



