KIMBERLEY. – Die polisie in die stad sê hulle is bewus van die video’s en kennisgewings wat op sosiale media versprei oor ‘n “shutdown” wat na bewering beplan word. Hulle moedig dus mense van Kimberley en Galeshewe aan om kalm te bly gedurende hierdie tydperk van voortdurende geweld wat in KwaZulu-Natal en Gauteng uitgebreek het.
“Die polisie in die provinsie sal geen situasie duld waar lede van die gemeenskap deelneem om optrede van plundering en geweld soos wat tans in Gauteng en KwaZulu-Natal plaasvind, aan te hits nie,” sê kol. Mashay Gamieldien, polisiewoordvoerder.
Mense met inligting oor “shutdown”, moet polisie in kennis stel
Besigheidseienaars en bestuurders van winkelsentrums word versoek om nie vroeër as die geadverteerde werksure toe te maak omdat hulle paniekerig is nie. Die optrede sal onnodig paniek by ander saai.
“Ons doen ‘n beroep op ons vredeliewende gemeenskappe om geen opportunistiese en kriminele gedrag te ondersteun nie en om enige inligting te rapporteer om te vermy wat in die genoemde provinsies gebeur. Ons doen ook ‘n beroep op die publiek om hulle te weerhou van vals inligting en video’s wat onnodige paniek en vrees veroorsaak.”
LEES OOK: Groot winkelsentrum in Pietermaritzburg brand
Volg FiNDiT hier vir die nuutste nuus.



