Die 8-jarige meisie wat glo Maandagmiddag by Laerskool Mantshebo ontvoer is, se liggaam is vandag gevind.
Brig. Motantsi Makhele, polisiewoordvoerder, sê die polisie het op haar liggaam afgekom ná n 46-jarige verdagte wat hulle ondervra het, hulle na die toneel geneem het.
“Haar liggaam was in ‘n duvet in die veld toegedraai. Sy het nog haar skooluniform aangehad.”
Die meisie se ouma het volgens Makhele ná die beweerde ontvoering twee maal ‘n oproep ontvang waarin ‘n losprys van R50 000 van die familie geëis is. Die eerste oproep was van ‘n man, die tweede oproep van ‘n vrou. Lees die vorige berig hier.
Makhele sê die verdagte is in hegtenis geneem op aanklag van moord en verskyn binnekort in die landdroshof op Welkom.
Die polisie verwag nog inhegtenisnames.
“Ons medelye aan die familie van Bokamoso in hierdie moeilike tyd.”



