‘Dis ‘n wonderwerk,’ sê vrou (26) na ongeluk amper haar lewe eis

Deel hierdie storie / Share this story

ORANIA. – “My liggaam het na die ongeluk in skok ingegaan. Ek was blind en kon nie my onderlyf beweeg nie,” vertel die eens aktiewe sportwetenskaplike na ‘n ongeluk wat haar vyf weke in die hospitaal laat lê het. Lariza James (26) vertel van die oggend op 22 Februarie 2021 toe haar lewe handomkeer verander het.

Botes het vanoggend Rocket Hems, by Kimberley se lughawe, besoek nadat hulle haar lewe na die gru-ongeluk gered het.

James vertel sy het die betrokke oggend net na 06:00 by ‘n stopstraat gestop. Toe dit haar beurt was om te ry en sy die straat wou oorgaan, het ‘n vragmotor teen ‘n hoë spoed aangery gekom.

“Die vragmotor het my aan my regterkant getref. Binne drie minute was daar mense rondom die motor om my te help.” Alhoewel sy nie veel van die ongeluk self kan onthou nie, vertel sy haar liggaam het in ‘n totale toestand van skok ingegaan. Haar liggaam was so in skok dat sy vir ‘n tyd blind was.

Hulle moes haar uit wrak sny na ongeluk

“Om my uit die wrak te verwyder, moes hulle die motor se bokant afsny. Rocket Hems se helikopter was ook dadelik in kennis gestel.

Daar is baie mense wat sê as dit nie vir Rocket Hems se ambulans was nie en ek moes per gewone ambulans na ‘n hospitaal geneem word, sou ek dit nie gemaak het nie. Ek is so dankbaar vir hulle. Hulle het werklik my lewe gered.”

Na die voorval het sy eers weer in ICU wakker geword. James sê sy het hier en daar mense in die ICU hoor gesels. Sy kan onthou hulle het gesê sy moet bloed kry omdat sy baie bloed tydens die ongeluk verloor het. “Mense het nie gedink ek gaan oorleef nie. In ‘n stadium was my bloeddruk slegs 50/20. Die hele eerste week was ‘n blurr.”

“Dit was hel en baie dramaties.”

sê Lariza James

Vir die eerste twee dae in die hospitaal kon James nie haar onderlyf beweeg nie. Sy kon nie eers haar bene, knieë of voete optel nie. Sy sê tydens die derde week het die personeel haar laat sit.

“Ek het die dokters gesmeek om die fisioterapeut te stuur sodat hulle my kan leer sit. Ek kon nie meer lê nie. Daardie tyd kon ek net op my rug lê. Dit was hel en baie dramaties.”

Die dokter het haar in kennis gestel sy het altesaam vier breuke in haar pelvis en ‘n gat in haar kop. Sy het ook ‘n aantal spiere in haar liggaam geskeur en gerek.

“Die derde week het ek leer sit. Dit was wel vir kort rukkies. Dan het ek naar geword van die pyn. Dit was erg. Ek het opgegooi en selfs duiselig geword, maar ek het nie opgegee nie. Ek het elke oggend en aand geoefen. Week vier het ek begin staan.”

Rocket het haar lewe gered

Daar is aan James gesê sy sal eers na ses weke gaan leer sit, maar na vyf weke is sy uit die hospitaal ontslaan. Vyf weke klink lank, maar dis veel beter as dit wat hulle voorspel het. Toe sy ontslaan is, kon sy 50 m met ‘n loopring loop en 15 – 20 minute regop sit.

“By die huis het ek geoefen om vir langer te sit en verder te loop. Na drie weke by die huis het ek sonder krukke geloop. Ek is toe na ‘n ortopediese chirurg vir ‘n opvolgondersoek. Hy het aan my gesê daar is steeds ‘n breuk wat nog nie ten volle herstel het nie, maar ek kan aangaan met my oefeninge.”

Onlangs is sy weer terug nadat sy erge pyn ervaar het. “Die X-strale wys my pelvis is steeds gebreek. Die pad na herstel gaan nog so twee jaar wees.”

“Na die hele voorval wil ek net dankie se aan Rocket. As dit nie vir Nico, oom Ettiene en Rocket was nie, was ek fisies nie hier vandag nie… Selfs die gemeenskap van Orania het so baie gedoen. Dis ‘n wonderwerk!”

LEES OOK: Man toets 10 maande lank positief vir Covid-19, sewe keer in hospitaal

LEES OOK: Regering gaan regstappe teen Independent Media neem na vals berigte oor 10 babas

Hou FiND iT dop vir die nuutste nuus.