Dr. Lance Coetzee, Suid-Afrikaanse uroloog, is die eerste plaaslike uroloog wat al ‘n duisend prosedures met behulp van robotika uitgevoer het.
LEES OOK: Apple betaal miljoene na student se kaalfoto’s uitlek
Omwenteling in kankerbehandeling
Dr. Coetzee glo vas dié soort tegnologie bring ’n omwenteling in kankerbehandeling teweeg en help lewens red.
Met behulp van nuwe tegnologie word die masjiene wat gebruik word om op kankerpasiënte te werk al hoe kleiner en slanker. Te danke aan die akkuraatheid van die tegnologie word minder lewens verloor.
Dr. Coetzee is ’n chirurg by die Urologie-hospitaal in Pretoria. Dié hospitaal het Afrika se eerste robotikastelsel in 2013 ontvang. Hy bestee meeste van sy tyd om pasiënte met nier-, prostaat-, testikulêre en blaaskanker met hierdie tegnologie te behandel.
Duisend prosedures
Hy het al ’n duisend prosedures, waaronder die verwydering van kwaadaardige prostate en gedeeltelike nierverwydering, met die hulp van dié rewolusionêre tegnologie uitgevoer.
“Die gebruik van robotika om prosedures uit te voer, word wêreldwyd meer algemeen gebruik. Dit is nie so indringend soos tradisionele operasies nie, dit verminder die kanse dat ’n pasiënt enige komplikasies na die prosedure kan ontwikkel weens infeksie om die wond en pasiënte se hersteltyd is sowat tien dae, nie meer weke nie,” sê Coetzee.
Hy sê ook ons betree nou die vierde generasie robotte wat makliker hanteerbaar en meer akkuraat tydens prosedures is. Hy hoop om binnekort een van hierdie opgegradeerde masjiene vir die Urologie-hospitaal aan te skaf.
Maroela Media berig dr. Coetzee is een van net ’n handvol Suid-Afrikaanse dokters wat geregistreer is om ander uroloë in Suid-Afrika in robotchirurgie op te lei. Hy hou ook Suid-Afrika se naam hoog deur ook in Brittanje as dokter en spesialis geregistreer te wees.
LEES OOK: Gr. 3-leerder dood na taxi hom stamp




