’n Paartjie het harte vermurwe op sosiale media toe die man, wat aan Alzheimer-siekte ly, besluit het om vir ’n tweede keer met sy vrou te trou.
LEES OOK: Vrou steel glo baba terwyl sy vir die ma skoene koop
Met Alzheimer-siekte gediagnoseer
Peter Marshall (56), wat ’n paar jaar gelede met Alzheimer se siekte gediagnoseer is, kan glad nie sy troue of selfs sy vrou se naam onthou nie. Al wat hy weet, is hy is lief vir haar.
Peter se vrou, Lisa, het aan NBC New York gesê hulle het saam na ’n troue-toneel op die televisie gekyk, toe hy vir haar gesê het hy wil graag met haar trou.
Weet nie sy is sy vrou nie
“Hy weet nie dat ek sy vrou is nie. Ek is net sy gunstelingpersoon,” het Lisa gesê. “Ek is die gelukkigste vrou ter wêreld. Ek kry die kans om twee keer met die liefde van my lewe te trou.”
Die paartjie van Connecticut in die VSA, wie se dogter n troubeplanner is, het begin rondbel en talle donasies het ingestroom.
Kan nie meer onthou nie
Peter se siekte vorder vinnig, soveel so dat hy nie meer die beloftehernuwingseremonie van ’n paar maande gelede onthou nie. Maar hy onthou wel daar is ’n vrou wat hom liefhet en hom koester.
LEES OOK: Oupa (97) laat mense skaterlag met sy manewales






