“Ek maak hierdie video om vir julle te sê: ‘Covid is geen grap nie’,” begin Lydia Fourie haar video. “Woensdag siek geraak, Donderdag getoets, Vrydag ingestap by die dokter, Saterdagmiddag opgeneem.”
Fourie, wat Woensdag met FiND iT deur Facebook-boodskappe gekommunikeer het, sê sy kan nie praat nie en sy sukkel om asem te haal na sy die afgelope Saterdag in die hospitaal opgeneem is.
Sy sê sy wil ander mense graag bewus maak van hoe ernstig die virus kan wees.
Haar suurstoftelling is 72. “My bloed is dik en taai en swart. My longe het swart bloedklonte in. Ek is op bloedverdunners en ’n hoë dosis kortisoon. Al wat ek kan sê, is: ‘Moenie wag nie.’ Hierdie ding vra nie hoeveel geld jy het nie.”
Covid-19 het Fourie se niere aangetas en in haar video sê sy dat sy nie kan regop sit of opstaan nie. “Ek kan niks vir myself doen nie, niks.”
“Die ouens wat sê dis ’n politieke ding, moet sy kop laat lees. Dié ding maak mense dood.”



