GRIEKELAND. – ’n Griekse vrou (56) is slegs ’n paar minute na sy haar tweede dosis van die Pfizer-entstof ontvang het, dood.
Greek Reporter berig die vrou, wat Vrydag om 10:00 vir haar tweede dosis van die entstof by die Kalavryta-hospitaal was, het ná die inspuiting in ’n spesifieke area gesit om gemonitor te word. Dit is normale prosedure om pasiënte ’n rukkie na die inenting dop te hou vir enige negatiewe reaksie wat mag plaasvind.
Tien minute na sy haar inenting ontvang het, het sy gekla van ’n brandende sensasie in haar bors en haar rug, en sy het inmekaargesak.
Dokters op die toneel het haar aan die lewe probeer hou, maar het ’n uur na haar ineenstorting opgehou probeer.
Volgens verslae bestaan die moontlikheid dat die vrou ’n hartaanval gehad en ook pulmonêre edema ervaar het.
Dit het ook later aan die lig gekom dat die vrou aan onderliggende siektes gely het.
Die vrou se dood is tragies, omdat sy en haar man na berigte juis na Kalavryta, die dorpie in Griekeland, getrek het om veiliger te wees te midde van die pandemie.



