September 19, 2021

Storie van hoop: swanger na jare se sukkel

Storie van hoop: Swanger na jare se sukkel

Storie van hoop: Swanger na jare se sukkel

Tammy Botha vertel van haar beste vriendin se stryd om swanger te raak en wil ander graag aanmoedig om nooit moed op te gee nie.

Ené van Niekerk (28) en Herman van Niekerk (29) was hoërskoolliefdes en is ná skool getroud. Die paartjie wou bitter graag kinders hê, maar hulle het baie gesukkel om swanger te raak.

Vir vier jaar gesukkel

“Dit was ‘n tydperk van vier jaar waartydens hulle probeer het om swanger te raak. En hulle het álles probeer,” vertel Botha. “Hulle is na Bloemfontein, na Pretoria, hulle het oral na antwoorde gesoek. Daar is vir hulle gesê dít is die antwoord, dan is daar gesê dít is die antwoord. Hulle het die hele vier jaar oor en oor weer probeer en dan weer opgegee, weer probeer en weer opgegee.”

Wou selfs baba aanneem

Botha vertel hoe die paartjie dit selfs ernstig oorweeg het om ‘n babatjie aan te neem.

“In daardie tydperk was daar twee stories van babas wat in Suid-Afrika net weggegooi is. Haar hart het gebloei. Sy is so ‘n goeie mens, ‘n goeie vriendin. Ek het gevoel die een persoon wat werklik verdien om kinders te kry, kan nie.”

Botha vertel hoe Ené soms sommer aangebied het om haar vriende se kinders op te pas.

“Sy wou so graag ‘n baba van haar eie gehad het.”

Dit was ‘n “shot of luck”

“Dit was met ‘n shot of luck wat sy uiteindelik in Oktober 2019 swanger geraak het.”

Wat nog méér van ‘n wonderwerk is, is dat Ené ses maande ná klein Herman se geboorte weer swanger geraak het. “En hulle het nie eers probeer nie,” vertel Botha.

Herman het haar ondersteun

Botha sê Herman het haar beste vriendin deur elke doktersafspraak ondersteun en hy was elke keer saam met haar. “Hy is ‘n ongelooflike man vir my vriendin.”

“Hulle is so grateful en so geseënd.”

Baba Wilné word in Augustus vanjaar gebore en Ené se ooievaarstee vind vandag plaas.

Klein Herman, wat aan die begin van die Covid-19-pandemie gebore is, word vandag al een jaar oud.

“Ek, wat self ‘n ma van twee is, is nou al deur hierdie dinge saam met Ené en een van my ander vriendinne. As daar een ding is wat ek vir enige paartjie wat sukkel om swanger te raak, kan sê, is dit om nóóit op te gee nie. Al het Ené soms gevoel dis haar skuld, die fout lê by haar, het sy steeds diep in haar hart aanhou hoop. Sy het soveel keer gevra: ‘Asseblief, Here.’ Haar moederhart het nooit opgegee nie. Ené en Herman se storie is ‘n storie van hoop vir ander.”

Botha se boodskap aan haar vriendin

Friend, na al die struikelblokke waardeur jy gegaan het, en nou dat jy twee babies het, dis net ‘n wonderwerk. Dis ‘n blessing van die Here Homself. Jy verdien alles wat na jou kant toe kom. Jy is ‘n amazing mens, mamma, vrou, en friend. Wanneer ek jou nodig het, is jy nog altyd daar. Ons is deur tien jaar van vriendskap en al het ons mekaar intussen verloor, is ons weer waar ons was.”

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *