Meisie (13) in roof-lokval in Beaconsfield gelok

Deel hierdie storie / Share this story

KIMBERLEY. – ’n Meisie (13) is gister op Jeugdag vermoedelik deur ’n ander meisie (19 of 20) in ’n lokval gelei sodat sy glo van haar selfoon beroof kon word.

Zelda Jacobs, die meisie se ma, het aan FiND iT gesê haar dogter is gistermiddag omstreeks 17:30 deur ’n ander meisie, wat in hulle straat in Beaconsfield bly, geroep om saam met haar winkel toe te loop.

LEES OOK: Bloeduitslae van gastekamer in Kemptonpark glo binnekort gereed

Lekkers gaan koop

“Sy het kom vra of my dogter saam met haar wou loop om lekkers te gaan koop. Ek het my dogter gewaarsku om nie deur die parkie op pad na die winkel toe te loop nie. Op pad winkel toe het die ander meisie my dogter se selfoon geneem en dit in haar hand gehou.”

Aangeval

Zelda vertel die kinders was skaars vyf minute weg toe haar dogter al huilend en skreeuend by die huis aangehardloop kom. Tussen die skok deur kon sy dit regkry om vir haar ma-hulle te vertel dat ’n man wat swart klere en ’n masker aangehad het agter ’n boom uitgespring het en haar begin slaan en met ’n mes gedreig het. Sy het toe vir hom weggehardloop.

Op soek na verdagte

Die dogter se ouers het toe in hulle voertuig gespring op soek na die verdagte en ook die ander meisie wat die dogter se selfoon gehad het.

’n Sekuriteitswag het vir hulle hulp aangebied en ook die polisie ontbied.

Deursoek sakke

Na ’n soektog het die gesin saam met die polisie die meisie en ’n man agter Laerskool Du Toitspan opgespoor waarna hulle sakke deursoek is. Met die deursoek van die twee persone se sakke, het die polisie glo op die selfoon sowel as dwelms afgekom.

Die twee is in hegtenis geneem en die dogter het haar foon teruggekry.

Waarsku ouers

“Die polisie het baie vinnig gereageer en die manier waarop hulle dinge hanteer het, was uitstekend. Dit is vir my bitter harsteer hoe onveilig dit vir ons kinders in ons eie buurt is. Ek wil net graag ander ouers waarsku. Moet niemand vertrou nie.”

FiND iT het navraag oor die voorval by die polisie gedoen en wag vir terugvoer.

LEES OOK: Aarbeie en room frappuccino