Paartjie se paaie skei na kêrel se Staffie kind (2) in gesig byt

Deel hierdie storie / Share this story

ENGELAND. – Wat begin het as ’n vrolike dag toe die ma en haar dogtertjie rondgehardloop en gespeel het, het vinnig verander toe haar kêrel se Staffie haar tweejarige dogtertjie begin aanval en in die gesig byt.

Volgens Michaela Clark se ma, Lauren, is die Staffie nie uitgelok nie. “Die hond, wat by ons gebly het, was in die sitkamer en ek en my dogtertjie het in die tuin gespeel. Sy het deur die huis gehardloop en ek het agterna gehardloop. Ewe skielik het die hond uit die sitkamer gekom en haar met sy pote omgestamp. Hy staan toe op haar rug en toe sy haar kop omdraai, byt hy haar in haar gesig,” vertel die ma aan Plymouthherald, ’n plaaslike aanlyn koerant.

Staffie begin meisie in sitkamer aanval

Sy sê verder alles het so vinnig gebeur. Sy het dadelik die hond van Michaela probeer afruk, maar sy het reeds diep snye aan haar gesig gehad. Michaela het twee skeurwonde aan haar wang opgedoen en haar lip moes toegewerk word. Die kraakbeen in haar neus was ook gebreek. Die hond het ’n stuk vel uit haar lip geskeur wat hulle later in die sitkamer gevind het waar die voorval gebeur het.

Lauren vertel alhoewel sy en haar kêrel nog net ‘n paar maande saambly, is hulle al ’n jaar saam. Die hond was nog altyd gewoond aan Michaela en hulle het glo altyd saamgespeel.

Na die voorval het Lauren en haar kêrel se paaie geskei. Sy bly nou saam met haar dogtertjie by haar ma terwyl Michaela nog ’n lang pad na herstel het.

LEES OOK: Reef (12) kry sy engelvlerke na kankerstryd

LEES OOK: Babaseuntjie lê leweloos na hy tussen ouers aan die slaap raak

Hou FiNDiT dop vir die nuutste nuus.