Reef (12) kry sy engelvlerke na kankerstryd

Deel hierdie storie / Share this story

Reef Donald James Carneson (12), wat vele harte gesteel het, het gisteraand om 20:00 sy engelvlerke gekry nadat hy op vyf maande oud met ‘n hoë risiko akute limfoblastiese leukemie gediagnoseer is.

“Reef het om 20:00 gesterf… Vlieg vry my, lieflike seuntjie! Ons is vir altyd lief vir jou,” is die nuus op sy Facebook-blad, Rock it 4 Reef, gedeel. Oor die 14 000 mense volg Reef se storie op dié blad.

Reef kry dadelik chemoterapie

Alhoewel Reef gedurende sy eerste jaar chemoterapie gekry het, was hy nooit in remissie nie. Op slegs 11 maande het hy reeds ‘n beenmurgoorplanting gekry.

Die afgelope paar jaar was nie maklik vir Reef se ouers nie. Baie trane en hartseer is al gedeel oor Reef se vordering. Daar was tye wat Reef kankervry was, maar hy kon steeds nie soos ander kinders funksioneer nie.

Reef het aan ‘n ernstige graft-versus-host-siekte (GVHD), wat byna al die organe in sy liggaam aangetas het, gely. Sy fisieke ontwikkeling was ook ver agter. Op die ouderdom van drie kon hy nie loop nie, kon hy nie praat nie en is hy deur ‘n nalo-gastriese buis gevoer.

Familie trek na Amerika

Die familie het in 2011 na Amerika getrek na die kinderhospitaal van Los Angeles aangebied het om hom te behandel. Na die behandeling kon hy rondhardloop (kort afstande), normale kos eet en het hy ‘n woordeskat van meer as 50 woorde gehad.

Sy ouers het gesukkel om toestemming te kry om te mag werk in Amerika en die familie het slegs op skenkings staatgemaak om die mediese kostes te dek.

Aan die einde van 2014 was die gesin verpletter toe hulle hoor die kanker het weer in Reef opgevlam. Hy het velkanker op sy kopvel en gesig gehad. Dit is aanvanklik met chemoterapie-room behandel. Die toediening van hierdie room was vir hom baie pynlik en sy kop was bedek met sere en rowe.

Sy grootste droom word waar

Hierna is hy na Cincinnati-kinderhospitaal in Ohio verwys. Dit is toe Reef oor televisie bekend word nadat groot organisasies sy Facebook-blad ontdek het.

In 2016 het van Reef se grootste drome waar geword. Hy is skool toe. Alhoewel hy gesukkel het om te kommunikeer en ‘n gehoorapparaat gedra het, het hy altyd sy beste in die klas gegee.

Nadat sommige letsels op sy kop net nie beter geword het nie, is ‘n biopsie uitgevoer en is die gesin se ergste vrese bewaarheid. Dit het in sy skedel en na die dura van sy brein, wat die buitenste breinweefsellaag is, versprei. Daar is ‘n magdom operasies beplan om hierdie krisis van voor af aan te pak. Reef het op Maandag 31 Augustus 2020 ‘n massiewe operasie ondergaan om dele van sy skedel en dura-laag van sy brein, wat ook deur die kanker afgevreet is, te verwyder.

Medelye stroom in

Op 22 Mei 2021 is Reef in die ICU opgeneem. Daar was vele dae wat daar goeie nuus was en daar was dae waar die trane in Reef se ma se oë gedryf het.

Reef was in sy tyd in die ICU op ‘n ventilator en het verskeie toetse ondergaan.

Medelye stroom sedert gisteraand op sosiale media in.

Reef se volledige storie kan hier gelees word.

LEES OOK: Babaseuntjie lê leweloos na hy tussen ouers aan die slaap raak

Hou FiNDiT dop vir die nuutste nuus.