FiND iT Media het binne die eerste 15 dae van Mei 2021 meer as 2.3 miljoen bladlese bereik. Met minder as drie jaar in die bedryf het FiND iT in meer as 500 000 Afrikaanse lesers se harte gekruip.
FiND iT praat met die publikasie se bedryfshoof, Rudi Ferreira, om vas te stel wat só ’n operasie verg.
“Of dit ’n maklike poging was, nee, beslis nie. So ‘n operasie verg ongelooflike deursettingvermoë en oneindig baie ure om lesers se vertroue te wen. Om nie eers van die koste-implikasie te praat nie. Wat aanvanklik bedoel was om ’n klein uitgelese groep mense in die Noord-Kaap van objektiewe nuus te voorsien, het binne twee jaar in ’n nasionale publikasie met so ver as internasionale lesers geword,” vertel Ferreira, wat self 25 jaar ondervinding het in die media.
“Met ’n gedrukte mediabedryf wat aan die uitsterf is, was dit altyd ’n gedagte om steeds die ‘waghond’ oor plaaslike regering, die polisie en gemeenskappe te bly. Ons was deeglik bewus van hoe krities die leser daar buite sal wees. Elke dag ervaar ons negatiewe, sowel as positiewe, kritiek en hoe dan anders? Ons verwag niks minder van ‘n miljoen oë wat elke beweging van jou dophou nie.”
As voormalige bedryfshoof by ‘n publikasie van Independent Media en advertensiehoof van publikasies by Media24, ken Ferreira albei kante van die munt. “Digitaal was vir my ‘n nuwe ervaring, maar dit het my oë oopgemaak. Ons kan elke leser van ons peil. Daar moet ook heeltyd ‘n balans tussen ons advertensies en nuusaanbod gehou word.”
Die belangrikheid van media
FiND iT, met ’n volledige nuusspan wat uit verslaggewers, vertalers, regsadviseurs, ‘n interne ombudsman en selfs die perskode van Suid-Afrika onderskryf, is ’n volwaardige nuuskantoor met meer as 30 jaar se ink wat deur die span se are vloei.
“Hierdie mense werk bitter hard en ek het net dankbaarheid vir hulle harde werk. Die publiek het die reg op inligting en hulle het die reg om te weet wat instansies soos jou plaaslike munisipaliteit of selfs departemente met die belastingbetaler se geld maak. Indien ons nie die publiek van die vermiste kind vertel nie, wie sal? Ons lesers het deel geword van iets groter en daarom is ons bevoorreg om elke brokkie inligting wat ons as belangrik genoeg ag met hulle te deel. Die leser is geskool en weet waarna hy soek, oëverblindery is ook nie so maklik nie. Mense vertrou op ons om inligting objektief en eerlik deur te gee.”
Stories wat jou direk raak
Ferreira sê min stories was vir hom so treffend en tragies soos die selfdood van ‘n 16-jarige meisie . Self ‘n pa van twee dogters, sê hy dié meisie se dood het hom laat besef daar is mense daar buite wat baie keer na hulp skree terwyl ander ongesteurd met hulle dag voortgaan. Die hond wat deur sy oppassers met ’n mes gesteek was, is nog een.
“Die arme dier het nie ’n ‘stem’ gehad nie, ons het hom een gegee. FiND iT het juis om dié rede HEALFORHOPE begin. ’n Aanlyn platform waar mense vir hulp kan vra en ander raad kan gee. Ons het geweet ons het die vermoë en kennis om so ‘n projek van stapel te stuur. Hou dit gerus dop.
“Die realiteit is egter dat so ’n operasie baie geld kos en daarom laat ons toe dat besighede van ons platform gebruik maak. Met meer as 2.3 miljoen kyke kan jou besigheid sekerlik nie verkeerd loop nie.”
Dis nie ons opinie nie
Ferreira sê hy kry die indruk die leser dink soms wat geskryf word, is FiND iT se mening of opinie. “Ons is maar net die boodskapper, daarom het ons juis nie ’n opinie nie. Vir elkeen wat ons lees, baie dankie. Vir elke adverteerder, dankie vir jou besigheid, maar meer dankie dat julle help om mense ingelig te hou.
“Ons nooi besighede uit om by ons betrokke te raak. Om saam met ons ’n verskil te maak. Elkeen se bydrae tel. Suid-Afrika is op ’n plek waar media se monde gesnoer word, maar elkeen het die reg om die waarheid te weet. Indien media in ons taal moet uitsterf, sal dit ’n fiasko veroorsaak. Kan jy jouself voorstel ’n wêreld waar nuus fataal of heeltemal afwesig is? Elke individu, ongeag ras of kleur het die reg op gratis inligting.
“Geen ‘paywalls’, geen eensydigheid nie. FiND iT gee inligting sonder dat die eindverbruiker daarvoor betaal. Solank as wat die leser en adverteerder ons ondersteun, is ons van plan om voort te bestaan.”
Kontak Ferreira direk by 071 686 7200 of kontak die redakteur, Jana Grobbelaar, direk by 076 163 3746 as jy wil betrokke raak.



