Negejarige meisie sterf nadat sy glo met polisiebeampte se vuurwapen ‘speel’

Deel hierdie storie / Share this story

KAAPSTAD.- ‘n Negejarige meisie het gesterf nadat sy en haar twee maatjies glo met ‘n polisiebeampte se vuurwapen “gespeel” het. ‘n Saak van moord is geopen na die skietvoorval Vrydagaand plaasgevind het.

Volgens IOL het die drie kinders in die huis gespeel toe die polisiebeampte tuiskom. Hy het sy dienspistool afgehaal en dit op die bank neergesit toe hy gaan water haal het. Die drie kinders het die pistool beetgekry waarna hulle daaroor begin stry het. Die polisiebeampte het glo probeer intree en ‘n skoot het afgegaan. Die meisie is in haar gesig geskiet.

Volgens FC van Wyk, polisiewoordvoerder, het die meisie bloeiend huis toe gehardloop met die polisiebeampte kort op haar hakke. Toe die polisiebeampte sien hy kan nie die meisie help nie, het hy teruggedraai en gaan bel vir hulp. Die meisie is op pad huis toe oorlede.

Van Wyk sê die voorval is aan die Onafhanklike Polisie-ondersoekdirektoraat (Opod) oorhandig, wie se woordvoerder Ndileka Cola sê dat ‘n doodsaak as gevolg van polisieoptrede ondersoek word.

Bonga Makuliwe, president van die vakbond Sapawu, sê dit is jammer dat die kind noodlottig in die voorval beseer is. Lede moet egter versigtiger wees wanneer kinders in die rondte is. Makuliwe sê hy glo dat as die pistool nie gelaai was nie, sou die kind nie die sneller kon trek en ‘n koeël loslaat nie.

Polisiebeamptes moet altyd veilig wees met hul vuurwapens

Hy het ‘n beroep op polisiebeamptes gedoen om altyd veiligheidsmaatreëls te volg wanneer hulle vuurwapens hanteer. Die wapen moet in ‘n holster of kluis wees, nie op ‘n bank nie.

Lees ook: Aanvaller met kapmes eis vyf lewens by Brasiliaanse dagsorgsentrum