Brasilië.- Twee personeellede en drie kinders het gesterf nadat ‘n 18-jarige aanvaller ‘n kleuterskool in die klein dorpie Saudades met ‘n kapmes binnegedring het.
Volgens World het die aanvaller, nadat hy die slagoffers aangeval het, sy eie nek, buik en bolyf oopgekloof in ‘n poging om selfdood te pleeg. Hy is in ‘n kritieke toestand in ‘n hospitaal opgeneem.
Aline Biazebetti, ‘n werknemer van die dagsorgsentrum, woon naby aan die sentrum. Sy was in haar huis toe die voorval gebeur. “Ek het ‘n geskree gehoor en het vir my pa gesê daar gaan iets by die dagsorg aan. Toe ek buite kom, het ek gesien hoe my kollegas om hulp roep. Hulle het gesê ek moet asseblief die polisie bel; ‘n aanvaller met ‘n mes het ingekom en die kinders vermoor.”
Leonardo Ecco, ‘n nooddienswerker, sê toe die brandweermanne by die dagsorgsentrum aankom, het hulle op ‘n baie grusame toneel afgekom. Daar was reeds kinders en een personeellid dood.”
‘n Polisieman het die aanvaller se wapen as “samurai-styl” kapmes beskryf en dit aan die pers vertoon. Dit was toegedraai in geel plastiek en is in ‘n bewyssak verseël.
Die ouderdom van die slagoffers is onbekend, maar die dagsorgsentrum is vir kinders vanaf ses maande tot en met twee jaar. ‘n Vierde kind het ligte beserings in die voorval opgedoen.
Owerhede het geen motief agter die aanval aangedui nie, maar het wel gesê dat die aanvaller geen kriminele rekord het nie.



