Dick de Waal, ’n besonderse mens

Deel hierdie storie / Share this story

Brig. Dick de Waal was volgens sy geliefdes en mense wat hom geken het, ’n baie besonderse mens. Nie net het hy in sy privaat lewe mense aangeraak nie, maar hy het mense ook in sy professionele lewe beïndruk met sy eerlikheid en goeie polisiewerk.

De Waal (58) is op 23 April 2021 in Mediclinic Gariep opgeneem en is Vrydag 14 Mei 2021 om 14:30 weens Covid-19 oorlede.

LEES OOK: Bekende Brigadier Dick de Waal oorlede

Uitgestaan in sy beroep

De Waal was die ondersoekbeampte in ’n aantal opspraakwekkende sake, waaronder die driedubbele gesinsmoord op die Steenkamp-gesin op hul plaas in Griekwastad, die G4S-transitorooftog waartydens R30 miljoen gebuit is, die moord op die Pofadder-hoteleienaar Leon Brits en die moord en ontvoering van die Brand-gesin op Hartswater.

Geliefd deur almal

Lené van Zyl Combrink sê: “Wanneer brigadier De Waal jou raakgeloop het, het hy altyd gaan stil staan en met opregte belangstelling met jou gesels. En wanneer hy met jou gesels het, het jy soos die belangrikste persoon in die wêreld gevoel. Ek het soveel respek gehad vir die briljante speurder wat hy was, maar ook vir sy menswees. Ek sal hom nooit vergeet nie. Hy laat ’n ongelooflike legacy na.”

Ingrid Louwrens Du Plessis sê: “Hy het altyd almal se verjaarsdae op sy kalender gehad. Partykeer het hy ’n dag te vroeg gebel met gelukwense, maar hy het altyd moeite gedoen om almal geluk te wens. Altyd rustig en kalm gebly, ongeag die chaos om ons. Hy het die lewe geniet, baie lief gewees vir lekker sterk swart koffie, motorfiets ry, ontbyt by Mugg & Bean en goeie rooiwyn. Was ’n voorreg om saam met hom te werk.”

Liezel Brink sê: “Uitstekende speurder, motorfiets- en rooiwynliefhebber, maar die belangrikste is dat oom Dick ‘n omgeemens was, ‘n mens met ‘n wonderlike hart en het altyd die ekstra myl geloop vir ander.”

LEES OOK: Yolandi Botes-moord: Wat ons sovêr weet