Ons sit en kyk realiteitsprogramme en YouTube-video’s van reisigers wat vir ‘n lewe die wêreld vol toer. Elke provinsie word besoek en dis net jy en die grondpad voor jou. Hier vertel twee Suid-Afrikaners hoe hulle van ‘n gewone 07:00 tot 17:00 werk gevorder het tot om die wêreld vol te ry.
Alti en Dirk is avontuurlustig en het altyd geweet hulle wil Suid-Afrika en sy buurlande platry. Dié paartjie, wat lief is vir reis en selfs ‘n YouTube-kanaal het, doen nou wat hulle altyd wou gedoen het.
Hulle is gemaak om reisigers te wees
Alti het binneshuise argitektuur studeer en klasgegee in ontwerp en argitekstekeninge voordat sy by Projek: Aardwolf, ‘n omgewingsprogram wat op KykNET uitgesaai was, beland het. Dirk het as klankingenieur studeer en as lodgebestuurder in die Vrystaat gewerk voordat hy stad toe gekom het om sy plek in die televisiebedryf te vind.
“Ons het jare gelede op Projek: Aardwolf gewerk. Ek reken dit was waarskynlik waar ons altwee agtergekom het ons is avontuurlustig en ons geniet dit om te reis vir werk. Ons was baie bevoorreg om saam met groot kundiges soos prof. Erik Holm (entomoloog), Danie van der Walt (uitvoerende vervaardiger van 50/50) en Johann Botha (omgewingsjoernalis) aan stories te werk wat ons regoor die land geneem het. Dis beslis ook hier waar ons ‘n passie vir die natuur en vir bewaring ontwikkel het. Hier het ons alle aspekte van produksie, van aanbieding tot kamerawerk, klank en redigering geleer,” vertel Alti.
Die korporatiewe lewe is nie vir hulle nie
Alti vertel verder dat alle goeie dinge tot ‘n einde kom en die span is uitmekaar. Sy en Dirk het hulself toe as redigeerders in ‘n korporatiewe omgewing bevind. “Al was dit vir ‘n rukkie baie lekker om in die gemak van ‘n kantoor met gewone ure en lugversorging te werk, het ons geweet ons sou dit nie kon volhou nie; ons wou meer hê,”erken Alti oor hulle korporatiewe lewe.
“In 2015 het ‘n regisseur by Red Pepper Pictures die groen lig vir ‘n naweekreisprogram, Vrydag4uur, met ‘n paartjie gehad, maar met ‘n begroting wat netsowel ‘n grap kon wees. Ons het heel toevallig vantevore die regisseur ontmoet en ons het aan die gesels geraak oor wat ons doen. Sy het vir ons gevra of ons die hele reeks sou kon aanbied, skiet en redigeer om die begroting te laat werk sonder ‘n hele span. Ons was natuurlik dadelik aan boord en dis waar die tuimeltreinrit begin het…”
“Ons het dadelik in die pad geval,”
sê Alti en Dirk
Op die vraag oor wanneer hulle toe voltyds begin rondrits het, antwoord hulle vinnig: “Ons het onmiddellik in die pad geval en vir die volgende paar jaar Suid-Afrika en die buurlande platgery. Van die begin af het ons gevoel dat ons graag stories wou vertel wat mense inspireer om self te reis en wat terselfdertyd ook as bewusmaking vir die natuur en bewaring kon dien. Daar is baie min plek in die vermaaklikheidsbedryf vir kwessies. Ons wou dit van ‘n ander kant af benader en eenvoudig vir die mense wys hoe mooi ons land is en wat ons kan doen om te help om die omgewing te bewaar,” vertel Alti verder.
“Met die eerste paar episodes het ons natuurlik glad nie geweet wat ons doen nie, maar die mense het dadelik aanklank gevind by die gemaklikheid van die program en Vrydag4uur was week na week van Via se top 10 programme. Dit was wonderlike tye, maar dit was vreeslike harde werk en ons was altyd óf op die pad óf agter ‘n rekenaar.”
Alti sê na agt seisoene het hulle begin om hulle eie produksiemaatskappy te begin en hulle het by Red Pepper Pictures bedank. “Ons het toe ons eie produksiemaatskappy, Basement Films, gestig en terselfdertyd het ons Van Die Pad Af begin.
Daar is wel uitdagings in dié reisigers se lewe
Ons maak ook tans ‘n Engelse reisprogram Ironvan Adventures vir Ironman 4×4 Africa se YouTube-kanaal. “Dis met groot trots dat ons ambassadeurs vir hulle is. Hulle het vir ons ‘n “overlanding beast” van ‘n voertuig gebou en gesê ons kan gaan ry waar ons wil solank ons dit net afneem. Ons geniet dit op die oomblik terdeë en ek vermoed ons sal ten minste vir ‘n paar jaar nog daarmee besig wees. Wie weet wat is volgende, maar een ding is seker – ons sal altyd travel filmmakers wees…”
Almal dink rondtoer vir ‘n lewe is altyd maanskyn en rose, maar alles wat mens in die lewe aanpak, het tog sy uitdagings.
“Die grootste uitdaging is waarskynlik dat ons as ‘n paartjie reeds saam woon, saam werk en saam ‘n besigheid bedryf. Maar ons het al oor die jare mooi geleer hoe om vinnig ons probleme uit te sorteer en aan te gaan. Ons is inteendeel vreeslik gelukkig dat ons hierdie lewe saam kan lei – ek dink dit moet vreeslik moeilik wees as een persoon reis vir werk en die ander een nie – ek weet nie hoe mense dit regkry nie.”
Die twee beplan om die volgende paar jare nog te toer. Hulle vertel al toer hulle vir ‘n lewe, is dit nog steeds harde werk. Om hierdie rede wil hulle ook ‘n paar vakansies sonder die kameras deurbring.
LEES OOK: Boer Niel en sy Cheréze – liefde blom omtrent tussen dié twee
Volg FiNDiT hier vir die nuutste nuus.








