VERALUM.- Twee jong vrouens is uit hulle fone bedrieg nadat ‘n buitelander onverwags snaakse olie aan hul bo-arms gesmeer het. Die jong vrouens was oortuig dat hulle in tokkelossies sou verander weens die olie.
Volgens Reaksie Eenheid Suid-Afrika (RUSA) is hulle deur ‘n huiswerker om hulp genader nadat haar dogter en hul buurvrou deur drie Suid-Afrikaners en ‘n buitelander bedrieg en beroof is.
Beide die jong vrouens, 19 en 21 jaar oud, is studente aan Durban se Universiteit van Tegnologie. Die twee was op pad na die een se ma se werk. Hulle het besluit om langs die pad te stop om ‘n paar selfies te neem. ‘n Onbekende buitelander het hulle genader. Hy het in ‘n taal gepraat wat hulle nie verstaan het nie. Sonder toestemming het die man aan hulle arms gevat en vinnig wegbeweeg. Beide vrouens het toe agtergekom dat daar ‘n snaakse olie aan hul bo-arms gesmeer is.
Die twee jong vrouens moes hul waardevolle besitings verklaar
Binne ‘n paar minute het ‘n vrou wat isiZulu praat hul genader en gesê die man het dieselfde met haar gedoen. Sy het die vrouens ingelig dat die olie moetie is wat hulle in tokkelossies gaan verander. Sy het gesê hulle moet dringend hulp by haar broer, wat in ‘n motor sit en wag, gaan kry.
Die vrouens het die vrou gevolg na ‘n wit motor wat omtrent 40 m van hul af geparkeer was. Beide die jong vrouens sê hulle was bang dat as hulle nie vinnig reageer nie, sou hulle in bose geeste verander.
Twee mans het in die motor gesit. Hulle het die vrouens verseker dat as die moetie nie gekeer word nie, sou hulle definitief in tokkelossies verander. Die drie vrouens het saam met die mans in die motor geklim en hulle het ‘n ent aangery.
Volgens die mans sou die vrouens alles van waarde verloor weens die moetie. Hulle het hulle oortuig om alles van waarde wat hul besit aan hulle te verklaar. Volgens die twee jong vrouens het hulle net hulle yskaste en Samsung-fone verklaar, omrede hulle studente is.
Hul moes hulle oë toemaak en bid
Die vrouens se fone is geneem en in ‘n bruin koevert geplaas. Hulle is aangesê om hulle oë toe te maak en te bid. Die koevert is toe in die een meise se rugsak geplaas. Die mans het vir die meisies gesê om nie die koevert oop te maak nie, anders sou hulle gebede nie verhoor word nie. Die een man het ‘n brons muntstuk gevat en oor die oliemerke op hulle arms gesmeer.
Die jong vrouens is aangesê om eers op hul hande te urineer voor hulle die koevert oopmaak. Nadat die drie skurke weg is, het die jong vrouens besluit om tog die koevert oop te maak. Binne-in het hulle gebreekte teëls gekry. Toe hulle besef hulle is beroof, het hul dadelik na die een se ma se werk gehardloop vir hulp.

Lees ook: Onderwyseres verskeie kere met skerp voorwerp in klas gesteek



