NAMIBIË. – Die polisie hier het glo nog nie opgetree teen die beampte wat betrokke was by ’n voorval wat na bewering gelei het tot die dood van ’n een maand oue baba nie. Volgens die polisie is hulle nie te blameer vir wat gebeur het nie.
LEES OOK: Vermiste man se liggaam gevind
Polisie is nie sleg nie
Andreas Haingura, polisiebevelvoerder, sê die saak word tans nog ondersoek en die media maak die polisie nou uit as “sleg”, wat nie die geval in hierdie insident was nie.
“Dit is te sensitief. Toe ek die storie gelees het, het dit gelyk of die media die land mislei,” het Haingura aan The Namibian gesê. “Vanweë die baba se dood wil dit nou voorkom asof die polisie harteloos is,” het hy bygevoeg.
Baba dood weens kopwond
FiND iT het vroeër berig ’n maand oue baba is dood na ’n polisielid glo ’n vangwa roekeloos bestuur het terwyl die ouers met hulle twee kinders agterin was.
’n Saak van strafbare manslag is geopen teen die polisiebeampte, wat volgens die ouers, roekeloos bestuur het. Dit het daartoe gelei dat hulle en hul twee kinders in die polisievangwa rondgegooi is en die baba ’n noodlottige kopwond opgedoen het.
Lees die vorige berig hier.



