Ellen DeGeneres het aangekondig haar televisiegeselsprogram, The Ellen DeGeneres Show, gaan na 18 jaar tot ‘n einde kom. Die 2021/2022-seisoen van die program sal die laaste een wees.
Volgens IOL het die 63-jarige DeGeneres gesê die program daag haar nie meer as ‘n kreatiewe persoon uit nie.
Ellen se besluit volg nadat sy in Julie 2020 daarvan beskuldig is dat sy ‘n boelie is. Sy het glo ‘n baie giftige werksomgewing vir haar werknemers geskep. Werknemers, gaste en selfs glanspersoonlikhede wat in die program verskyn het, was glo afgeknou.
In die nasleep van die beskuldigings en die koronaviruspandemie het die graderings op The Ellen DeGeneres Show gedaal.
“As jy ‘n kreatiewe persoon is, moet jy voortdurend uitgedaag word en so groot soos hierdie program is, en so lekker soos dit is, is dit net nie meer ‘n uitdaging nie,” sê DeGeneres. DeGeneres, wat met die aktrise Portia de Rossi getroud is, is nou daarop ingestel om met films te begin werk en op haar bewaringswerk te fokus.
“Ek gaan volgende jaar my kampus in Rwanda oopmaak en ek wil meer betrokke raak by bewaring en alles wat vir my saak maak rakende die omgewing en diere.”
Op 13 Mei sal DeGeneres ‘n onderhoud met Oprah Winfrey voer om die einde van die program te bespreek.
Lees ook: Pick n Pay sê hul skuld klante R200 miljoen se punte



