Baba dood na rit in polisievangwa

Deel hierdie storie / Share this story

NAMIBIË. – ’n Maand oue baba is dood na ’n polisielid glo ’n vangwa roekeloos bestuur het terwyl die ouers met hulle twee kinders agterin was.

LEES OOK: Man oorlede na hospitaal operasie uitstel weens watertekort

Saak van strafbare manslag geopen

’n Saak van strafbare manslag is nou geopen teen die polisiebeampte, wat volgens die ouers, roekeloos bestuur het. Dit het daartoe gelei dat hulle en hul twee kinders in die polisievangwa rondgegooi is en die baba ’n noodlottige kopwond opgedoen het.

Komberse gesteel

’n Familielid het glo op 21 April 2021 die paar se komberse gesteel en hulle is met hulle twee kinders omstreeks 22:00 na die Epako-polisiekantoor in die Omaheke-streek om die diefstal aan te meld.

Die ma van die baba het haar tweejarige op haar rug en die baba voor haar bors vasgemaak gehad, toe hulle in die vangwa geklim het om saam met die polisielid te gaan om hulle komberse terug te kry.

Roekeloos bestuur

Stephanus Eiseb (39), pa van die baba, het aan Namibian gesê die polisielid het roekeloos bestuur en het in ’n stadium ’n skerp draai gemaak wat veroorsaak het dat hulle agterin die vangwa rondgegooi was. Die baba het sy kop teen die binnekant van die voertuig gestamp.

Die baba het na bewering erg gehuil en toe stil geword. Dit was glo te donker in die vangwa om te sien of hy enige beserings opgedoen het.

Nadat hulle hul komberse teruggekry het, moes hulle huis toe loop en het eers by die huis agtergekom iets is fout.

Baba was yskoud

Volgens Eiseb was die baba yskoud en het hulle nie vervoer gehad om die baba hospitaal toe te neem nie.

Die baba se liggaam is eers die volgende oggend deur polisie verwyder en na die hospitaal geneem.

Polisie ondersoek die saak

Haingura Andreas, polisiewoordvoerder, sê hy is bewus van die saak. “Die saak word tans nog ondersoek.”

LEES OOK: Beginnersgids vir gaming