CENTURION. – ‘n Hond wat ernstige beserings opgedoen het ná sy eienaar in ‘n ongeluk op die N14 betrokke was, is ten spyte van pogings om hom te red, dood.
Hond dood na ongeluk
Die ongeluk het laatmiddag op Maandag 2 Mei plaasgevind. ‘n Voertuig met ‘n sleepwaentjie en ‘n bakkie het gebots toe die sleepwaentjie veroorsaak het dat die voertuig omdop.
Lees ook: Hondjie deur kinders gemartel, soos vullis weggegooi
Volgens ER24 het die bestuurder van die voertuig ligte beserings opgedoen, maar wou hy nie na die hospitaal geneem word nie. Twee honde het saam met hom in die voertuig gery. Een van die honde het geen beserings opgedoen nie, maar die ander een is uit die voertuig geslinger en het ernstige beserings opgedoen.
ER24 het vir die hond pynmedikasie gegee voor hy na ‘n Muldersdrift-veearts geneem is vir behandeling. Die hond is ongelukkig, ten spyte van almal betrokke se beste pogings, by die veearts dood.



