BLOEMFONTEIN. – ’n Hondjie wat uit ’n informele nedersetting deur die Bloemfonteinse dierebeskermingsvereniging gered is, se lyfie was so beseer dat die DBV se inspekteur meen dis ondenkbaar dat sy nog leef na die marteling wat sy moes beleef.
Die hondjie, wat deur die DBV Kiara gedoop is, is deur ’n groep kinders gemartel. Volgens die DBV het ’n bejaarde vrou hulle Saterdag gebel en vir hulle gesê dat sy die hondjie die hele dag hoor huil het.
Lees ook: My stryd teen kanker – ’n tweede keer
“As ek nou tot sterwe kom, het ek iets om na uit te sien. Wie wil nie by die Here wees nie? Wie wil nie daar wees waar geen pyn en lyding is nie?”
“Sy het gesien hoe die kinders die hond rondsleep en skop. Sy het vir die kinders gesê om op te hou, maar hulle het net vir haar gelag,” sê die DBV.
“Nes die hondjie weer haarself kon oplig, is sy soos ’n sokkerbal deur die lug geskop,” vertel die vrou. “Hoe meer ek vir hulle geroep het om op te hou, hoe meer het hulle die hond gemartel. Hulle het selfs ’n stok in haar keel probeer afdruk.”
Toe Kiara na ’n rukkie leweloos gelê het, het die kinders haar, soos vullis, in die asdrom gegooi, vertel die vrou verder.
Kiara het ernstige beserings aan haar lyfie opgedoen. Verskeie van haar bene is gebreek, sy het ernstige beserings aan haar spiere opgedoen en ook in haar mondjie.
Die kinders is intussen nog nie opgespoor nie.
“Die veearts meen Kiara moet ’n operasie ondergaan en dit gaan ons R8 000 uit die sak jaag,” sê die DBV. Ons vra hiermee nederig dat ons ondersteuners Kiara se storie moet deel sodat ons die nodige donasies vir die operasie bymekaar kan maak.”
Indien jy ‘n bydrae wil lewer, die DBV se bankbesonderhede is soos volg:
ABSA Bank
Rekeningnaam: BFN Society for the Prevention of Cruelty to Animals
Rekeningnommer: 927 910 2644
Takkode: 632 005
Verwysing: Kiara



