Vrou vertel hoe sy Addie-leerling voor haar sien sterf

“Phazel het baie seergekry en dit was lelik om te aanskou.”

Vrou vertel hoe sy Addie-leerling voor haar sien sterf (Foto's: Facebook)

Vrou vertel hoe sy Addie-leerling voor haar sien sterf (Foto's: Facebook)

KIMBERLEY. – “Elke keer as ek weer hier in Kimberley is, speel dit weer voor my af. Ek vermy al daardie pad.”

Só sê Annelise Koorsen van die dag wat Phazel Brown, ‘n gr. 8-leerling aan Hoërskool Adamantia, voor haar doodgery is.

“Die persoon wat vir Phazel raakgery het, het voor my gery. Phazel en ‘n maat was glo op pad om hulle fietse se wiele te gaan pomp toe die ongeluk gebeur het,” vertel Koorsen.

Lees: Gr. 8 Addie-leerling sterf tragies

Die ongeluk het op 16 Maart vanjaar op die brug in Phakamile Mabijastraat plaasgevind.

“Phazel het sy balans op die fiets verloor en het onder die bakkie se wiele beland. Die hele linkerkant van die bakkie het oor hom gery.”

Die swart Nissan-bakkie wat oor Brown gery het, het vyf meter vorentoe stilgehou.

Koorsen sê sy was histeries van skok. “Ek het uitgeklim, my rooi driehoekie in die pad gesit en probeer om Phazel wakker te hou. Sy kakebeen het nog beweeg, so ons het gedink hy leef nog. Ons sou later besef dit was seker sy laaste asem wat hy uitgeblaas het. Toe die ambulansmense daar aankom, het hulle gesê hy is op slag dood.”

“Daar het ‘n man in ‘n wit Volkswagen Caddy gestop en gesê hy het noodhulpervaring. Hy het ook vir ‘n rukkie probeer om Phazel wakker te kry. Ek was só in skok dat ek nie gedink het daaraan om sy naam of nommer te vat nie.”

Lees ook: Hartseer verhaal van 16-jarige Simoné se selfdood

Koorsen, wat in Bloemfontein woon en in Kimberley werk, sê sy kon nie die dag terug Bloemfontein toe ry nie. Sy moes self met die ambulans na die hospitaal geneem en vir skok behandel word.

Koorsen vertel hoe ongelukkig Brown se ouers is dat geregtigheid byna twee maande ná die ongeluk steeds nie geskied het nie.

“Daar word nou gesoek na die man in die wit Volkswagen omdat hy verdink word daarvan dat hý die een is wat Phazel raakgery het. Phazel se familie is platgeslaan.”

Volgens Koorsen was dit regtig ‘n fratsongeluk en was dit niemand se skuld nie. “Die polisie sê twee ooggetuies se verklarings is nog uitstaande en daarom is die saak nog nie afgehandel nie.”

“Phazel het baie seergekry en dit was lelik om te aanskou. Elke keer wat ek daardie pad ry, word ek herinner aan wat gebeur het. Die hele gebeurtenis het my lewe verander. Ek het self twee seuns en ek kan nie help om te wonder wat as dit met een van hulle gebeur het nie. Ek is nou soveel meer bewus en beskermend.”

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

%d bloggers like this: