Video waarin ‘SPCA’ gans met voorwerp doodmaak, het mense woedend

Deel hierdie storie / Share this story

OOS-LONDEN. – ’n Video waarin mense met East Londen SPCA-uniforms ‘n gans vashou en dié se nek met ‘n voorwerp kap, het mense woedend op Facebook gehad.

FOTO’S IN HIERDIE BERIG IS NIE VIR SENSITIEWE LESERS NIE.

Die Dierebeskermingsvereninging in Oos-Londen sê in ‘n verklaring hulle het die dag van die voorval ‘n opvolginspeksie by ‘n teler in hulle regsgebied gedoen nadat hulle verskeie klagtes van diere in moontlike nood ontvang het.

SPCA verduidelik na video van gans bekend word

“Daar het ons verskillende diere gevind en hulle moes dadelik uit die toestand verwyder word, aangesien daar al waarskuwings aan hulle gegee was.”

Hulle beweer verder die beseerde gans het egter so gely dat die vervoer van die dier per voertuig dit nog meer pyn sou veroorsaak. Die eienaar het berig dat die dier glo drie weke gelede deur ‘n motor raakgery is.

“Ons moes die dier ongelukkig op die terrein doodmaak, aangesien daar geen ander oplossing was nie. ‘n Saak van dieremishandeling (Dierebeskermingswet nr. 71 van 1962) sal teen die teler geopen word. Die ander diere is in die sorg van die Oos-Londen DBV en word behandel nadat hulle die veearts besoek het.”

NSPCA is bewus van video

“Jammer, maar ek word meer verskrik hoe meer ek dit lees …. Sou die vervoer van die gans dit meer pyn veroorsaak het as dat die keel met ‘n stomp mes gesny is?” is een sosialemediagebruiker se kommentaar oor die voorval.

FOTO’S IS NIE VIR SENSITIEWE LESERS NIE.

Die Nasionale Raad van Dierebeskermingsverenigings (NSPCA) is bewus gemaak van die video wat op sosiale media versprei word en hulle moedig die publiek aan om enige besware by hulle aan te meld. In hulle verklaring beskryf hulle die doodmaak van die gaans as “‘n onmenslike slagting”.

“Die personeel van die Oos-Londen DBV in die video is geïdentifiseer en ons het kontak met die die betrokke DBV gemaak om ‘n dringende ondersoek te begin. Ons wil dit duidelik maak dat die saak beslis hanteer word. Ons blameer nie die publiek dat hulle woedend is nie.

LEES OOK: KYK: Petroljoggie dink vinnig toe vermeende motorkapers toeslaan

Volg FiNDiT hier vir die nuutste nuus.