‘Die Uber-bestuurder het aanhou bel tot ek geantwoord het’

“Ek sorg toe dat ek my sakkie vat en maar high heels en al daar wegkom.”

‘Hy het aanhou bel tot ek geantwoord het’

‘Hy het aanhou bel tot ek geantwoord het’ Foto: Uber

Ontvoering van vroue en kinders in Suid-Afrika is ’n nare werklikheid. Tilana Seal het ’n bitter noue ontkoming met ontvoering gehad en danksy een Uber-drywer se volharding betyds ontsnap.

Seal het op Haar Facebook-bladsy haar vreesaanjaende ervaring gedeel in die hoop om ander vroue te waarsku.

LEES OOK: Ma hang glo baba oor stoel om drankie te geniet

Bestel ’n Uber

Seal skryf sy het 27 November 2020 op Johannesburg-lughawe geland en was baie haastig om by ’n afspraak uit te kom.

“Ek het die Uber-toep op my foon afgelaai en so vinnig soos 1,2,3 is ’n Uber gereël wat my binne 10 minute by Domestic Arrivals sou optel.”

Sy vertel na ongeveer vyf minute het ’n man haar genader en gevra of dit sy is wat ’n Uber bestel het.

“Ek het nog nooit ‘n Uber of enige ander taxidiens gebruik nie. Soos wat ons na sy voertuig gestap het, maak ek nog verskoning omdat hy my moes kom soek. Ek klim toe in die voertuig. Die drywer vra my vir die adres waarnatoe ek op pad is en hy tik dit op sy GPS in. Stadig beweeg ons uit die parkeer-area uit, want daar is baie voertuie voor en agter ons.”

Kry onverwagte oproep

Seal kry ’n oproep, wat sy antwoord. Dis toe ‘n persoon wat verduidelik dat hy haar Uber-drywer is en vir haar staan en wag.

“Ek antwoord die foon en hy verduidelik sy naam is Ken. Hy sê vir my: “I am the Uber you booked, but I don’t see you here where I said I’m going to pick you up.” Ek sê toe vir hom dankie, maar hy is effe laat, ek het sommer die ander Uber-drywer gevat wat eerste daar was, want ek is haastig.”

Drywer skop bohaai op

Die man op die foon begin dadelik ’n bohaai opskop en sê sy moet dadelik uit die voertuig uitklim, want Uber werk nie so nie.

“Hy sê ek is veronderstel om saam met hom te ry en nie met iemand anders nie. Ek hou voet by stuk en sê: “Nee, dankie, first come first serve, ek is haastig en reeds op pad.” Ek klim nie nou uit nie! Ek druk my foon dood. So hou Ken aan met bel en ek druk dood, want ek het gedink dit gaan vir hom oor geld, omdat hy besigheid verloor het. So beweeg ek en my drywer nader en nader aan die booms waar jy jou kaartjie indruk om die parkeer-area te verlaat. Ken hou aan bel en die huidige drywer sê ook ek moet net die oproep ignoreer, want dis professional jealousy, die man is net omgekrap omdat hy besigheid verloor het.”

Drywer bel polisie

Ken hou aan bel en Seal antwoord haar foon met die doel om hom baie mooi te laat verstaan sy gaan nie uitklim nie.

“Toe ek uiteindelik antwoord, is die eerste ding wat hy vir my sê: ‘Lady, please get out of that vehicle you are in. It’s dangerous. I called the police. They are going to lock the booms.’ Iets binne-in my sê toe vir my, hoekom sal die man so aanhoudend bel en sê ek moet uit die voertuig klim? Wat gaan aan?”

Drywer woedend

Seal sê sy besluit toe om nie die kans te vat nie en vra die drywer om haar weer terug te neem en haar af te laai, waarna hy woedend geraak het.

“Ek sê toe vir die drywer: “Jammer vir die ongerief, maar ek gaan eerder by my oorspronklike Uber-drywer hou.” Ek vra sal hy my asseblief terugneem na C2 toe, waar ek gewag het. Hy word toe baie kwaad en sê die ander drywer gaan my onnodig baie geld vra, maar dis reg, hy gaan net uitry, ’n U-turn maak en my dan weer by Arrivals aflaai. Ek besluit toe not a damn en ek maak net daar die kar se deur oop, in die ry, en sê hy moet stop, ek gaan uitklim en self terugloop C2 toe.”

“Daar is karre voor en agter ons wat gelukkig veroorsaak dat dit stop-go, stop-go is en ek kon uitklim. Ek loop om en kry my sak op die agtersitplek. Needles to say, die drywer was woedend en het in ’n taal gepraat wat ek nie verstaan nie.”

Foto van ’n afstand af

“Toe ek in die kar buk om my sak te kry, sien ek hoe die drywer op sy foon op WhatsApp is en daar is ’n foto van my wat van ’n afstand, waar ek staan en wag by C2, geneem is. Hy stuur toe ’n stemboodskap in ’n vreemde taal aan iemand met my foto op die skerm. Ek sorg toe dat ek my sakkie vat en maar high heels en al daar wegkom.”

“Soos ek in die parkeer-area loop, kom ’n man in my rigting aangehardloop, asof hy verwoed soek na iets. Toe hy my sien, is dit asof hy nie sy oë kan glo van verligting nie en hy skree so hard soos wat hy kan: ‘Miss Seal WAIT there!’ Hy hardloop tot by my en kry eers sy asem terug. Sy heel eerste woorde aan my is: “Thank God you got out! Ma’am you have NO idea how close you were today to getting kidnapped!

Was nooit Uber-drywer nie

“Die kort en die lank van die saak is: Dit was NOOIT ’n Uber-drywer wat homself eerste aan my kom voorstel het nie. Ek het nie van beter geweet nie en het nie geweet hoe Uber se identifikasie- en veiligheidsprosedure werk nie. Ek het vertrou. Uber word wêreldwyd gebruik vir ’n rede. Hulle is ’n  maatskappy wat baie moeite doen om hul kliënte se veiligheid te verseker. Sorg net dat jy weet wat hulle prosedure is sodat jy nie die fout maak wat ek gemaak het nie.”

FiND iT het navraag aan Uber gestuur en wag vir terugvoer.

LEES OOK: Vrou vermoor glo haar man

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

%d bloggers like this: