Agt in hegtenis na beweerde rooftog op plaas

Deel hierdie storie / Share this story

KWAZULU-NATAL. – Die polisie het agt verdagtes in hegtenis geneem nadat ‘n boer Vrydag op sy plaas op Mooirivier beroof is.

“Die slagoffer was Vrydag in sy kantoor op die plaas toe daar na bewering twee voertuie met vyf mans aangekom het. Die mans het glo sy kantoor binnegegaan en hom met ‘n geweer teen sy kop aangehou,” sê brig. Jay Naicker, polisiewoordvoerder.

Agt in hegtenis met vuurwapens glo in hulle besit

Volgens Naicker het die verdagtes glo juwele, skootrekenaars, ‘n horlosie, selfoon, vuurwapens en die inhoud van die kluis gesteel. Die slagoffer se bene en hande was vasgebind voordat die verdagtes in hul voertuie van die toneel gevlug het.

Een van die voertuie van die verdagtes is op die N3-snelweg in die rigting van Pietermaritzburg opgemerk. Polisiebeamptes van Mooirivier, die Pietermaritzburg K9-eenheid en Pietermaritzburgse openbare orde-polisie het die voertuig saam met sekuriteitsbeamptes van Magma-sekuriteit agternagesit. Die span het die voertuig ingehaal en vyf verdagtes is in hegtenis geneem.

Die verdagtes sal binnekort verskyn

Vyf vuurwapens asook ander items wat glo aan die slagoffer behoort is in die verdagtes se besit gevind. Die span ondersoekers is toe na KwaMashu waar nog drie verdagtes in hegtenis geneem is. Hiér is daar glo op ‘n tweede voertuig sowel as ses vuurwapens beslag gelê.

Die agt verdagtes, tussen 24 en 51 jaar oud, sal na verwagting binnekort in die hof op aanklag van roof verskyn.

LEES OOK: Ma en verstandelik gestremde seun op plaas doodgeslaan

Volg FiND iT hier vir die nuutste nuus.