GAUTENG. – Michayla Breedt (18) wat laas op 29 Maart 2021 op die OR Tambo-lughawe verdwyn het, is gevind en veilig terug by haar ma.
“‘n Vriend van my in Louis Trichardt het my Vrydagoggend (17 April) gebel en gesê dat ‘n dame Michayla moontlik gesien het nadat sy haar kinders by ‘n laerskool afgelaai het. Sy het Michayla aan haar hare en ‘n tatoe herken wat in die skakel van die dorpswag beskryf word,” vertel Michayla se ma, Jean Breedt, aan FiNDiT.
Michayla gevind na vrou haar herken
Jean sê sy het haar vriendin ingelig en gevra dat sy bietjie moet rondry in die omgewing en rondkyk of sy haar kan sien.
“Na ‘n rukkie het my vriendin my gekontak en gesê sy gaan vir my iets op Whatsapp stuur en ek moet daarna kyk en nie huil nie. Toe ek kyk, sien ek dis ‘n foto van Michayla en my vriendin.
“Michayla het toe by my vriendin gebly tot sy Michayla Sondagoggend deurgevat na my tannie in Benoni waar my ma op daardie oomblik gekuier het (Michayla se ouma).”
Sy het tydens inperking verander
Jean vertel na baie hulp is Michayla nou weer veilig by haar. “Ek wil baie graag vir almal baie dankie sê vir alles, want sonder hulle sou dit vir my onmoontlik wees om dit deur alles te maak.”
FiND iT het vroeër berig Jean sê Michayla het tydens die inperking heeltemal verander. Sy loop en praat met haarself. Sy raak ook aggressief as jy vinnig aan haar raak. “Michayla was altyd so presies op haar hare, mens mag skaars daarna gekyk het, maar onlangs het sy sommer self die skeerder gevat en alles afgesny.” Haar ma was nog besig om die nodige hulp vir haar te kry en dus gebruik sy nie medikasie op die oomblik nie.
LEES OOK: Michayla (18) al 15 dae vermis, ‘Ek is nie kwaad vir haar nie’
Volg FiND iT hier vir die nuutste nuus.



