GAUTENG. – Michayla Breedt (18) is steeds vermis nadat sy laas op 29 Maart 2021 saam met haar ma by OR Tambo-lughawe was.
“Ek het Vrydag 2 April van die werk af gery. Ek werk in Centurion en was op pad huis toe in Pretoria-Noord. Op pad het ek ‘n motor voor my gesien waarin daar ‘n geskarrel in die agterkant was. Ek het die situasie dopgehou, want ek kon sien die mense agter in die motor was besig om te baklei,” vertel, Raymond, wat Michayla laaste gesien het.
Raymond vertel verder aan FiNDiT die motorbestuurder het ewe skielik die motor tot stilstand gebring. “Dit is toe dat hulle ‘n meisie by die deur uitgooi.”
Michayla is laas op die N1 afgelaai
Hy het dadelik van die pad afgetrek en na die meisie geloop om te hoor of sy oukei is. Sy het aan my gesê sy weet nie waar sy is nie, maar wil graag Potties toe gaan. Dis ook toe sy aan Raymond sê dat die mense wat haar langs die pad opgetel het, gedink het sy is ‘n prostituut. “Ek het aangebied dat sy vir ‘n rukkie saam met my ry. Ek het vir haar gesê ek is nie op pad Polokwane toe nie, maar ek kan haar by die Pretoria-Noord-afrit aflaai. Vandaar kan mens die tolhekke na Polokwane sien.”
Raymond het ook tydens die rit vir Michayla gevra of hy haar polisie toe kan neem, maar sy het dadelik opstandig begin raak en gesê sy gaan nie.
Die volgende oggend toe Ryamond wakker word, het sy meisie op Facebook vir hom gewys van ‘n 18-jarige wat vermis is. Dit is toe hy besef hy het die vorige dag vir Michayla ‘n rit aangebied.
“Sy het baie verander. Amper asof sy drie verskillende persone binne haar het.”
Jean Breedt
Jean Breedt, Michayla se ma, sê Michayla het tydens die inperking heeltemal verander. Sy loop en praat met haarself. Sy raak ook aggressief as jy vinnig aan haar raak. “Michayla was altyd so presies op haar hare, mens mag skaars daarna gekyk het, maar onlangs het sy sommer self die skeerder gevat en alles afgesny.” Haar ma was nog besig om die nodige hulp vir haar te kry en dus gebruik sy nie medikasie op die oomblik nie.
Jean sê sy het nie altyd opgetree soos sy nou doen nie. “Sy lewe nou in haar eie droomwêreld.” Sy versoek die mense om Michayla nie polisie toe te neem wanneer hulle haar sien nie, want sy het ‘n groot vrees vir hulle en sal probeer weghardloop. Jean sê Michayla praat die laaste tyd baie van Potties en dat sy daarnatoe wil gaan.
Sy het ‘n swart-en-donkerblou gestreepte trui en pienk hemp met ‘n roomkleurige langbroek en vlootblou tekkies aangehad.
Sy’s omtrent 1.5 m lank en weeg omtrent 50 kg. Sy het blou oë en sagte sproete op haar neus. Sy het ‘n tatoe wat soos ‘n droomvanger lyk agter op haar nek naby haar hare en ook op haar hande.
Kontak Florien Deysel by 061 123 3767 indien jy weet waar Michayla haar bevind of as jy haar êrens sien.
LEES OOK: Michayla (18) steeds vermis na nege dae
Volg FiND iT hier vir die nuutste nuus.



