Twee polisiebeamptes gevonnis wat verdagte vermoor

Deel hierdie storie / Share this story

OOS-KAAP. – Die streekhof op Middledrift het twee voormalige polisiebeamptes, Ntsikayesizwe Dlephu (37) en Masixole Bushula (40), elk tot 20 jaar tronkstraf gevonnis vir die moord op Bathandwa Kula (20).

Die twee het ‘n klag van huisbraak ondersoek en Simphiwe Sityi in hegtenis geneem, ondervra en aangehou. Hulle het hom gemartel deur hom met plastieksakke te probeer versmoor.

Twee polisiebeamptes martel verdagtes

Die twee beamptes het Bathandwa Kula, nog ‘n verdagte, by sy huis op Alice gaan haal en na die polisiekantoor geneem waar hulle hom op dieselfde manier gemartel het. Daar is met hom na ‘n hospitaal gehaas waar hy met sy aankoms dood verklaar is.

Op dieselfde dag het Michael Smith, ‘n ondersoeker van die Onafhanklike Polisie-ondersoekdirektoraat (IPID), die liggaam en die misdaadtoneel ondersoek. Hy het Sityi ondervra, wat hom toe die kantoor gewys het waar hy en Kula gemartel is.

Dlephu en Bushula is onmiddellik in hegtenis geneem. Tydens die verhoor het hulle die bewerings ontken en beweer Kula het epileptiese aanvalle gehad. Abei beskuldigdes is skuldig bevind aan moord en aanranding met die doel om ernstig te beseer.

Behalwe vir die 20 jaar is Dlephu en Bushula verder tot drie jaar tronkstraf elk gevonnis vir aanranding met die doel om ernstig te beseer.

LEES OOK: Elektrisiën keer terug na huis om familie te beroof

Volg FiND iT hier vir die nuutste nuus