KIMBERLEY. – Kimberley beleef tans ’n uitbraak van AHS (African horse sickness) en perde is glo in kwarantyn geplaas. Verskeie perde is dood weens die siekte, wat inwoners baie bekommerd het.
Volgens ’n anonieme bron gaan perde binne 15 minute vanaf die eerste simptome dood. “Die siekte beïnvloed tans die hele land en menige gevalle is in die Wes-Kaap sowel as die Vrystaat aangemeld.”
Tans vrek daar glo tussen een en twee perde in Kimberley per dag.
AHS word deur muggies oorgedra.
LEES OOK: Vermiste Roodepan-vrou se liggaam gevind
Vets4All gee raad
Johan Human, veearts by Vets4All in Kimberley sê daar is wel perdesiek in die omtrek; hy het in die laaste tyd ’n paar gevalle gesien.
“Daar is nie ’n behandeling om perdesiek gesond te maak nie, maar daar is wel ondersteunende behandeling wat veeartse kan toedien om koors te breek en ontslae te raak van vog. Die behandeling ondersteun die perd om teen die virus te veg in die hoop dat die perd sal deurtrek.”
“Dit kan voorkom word deur jou perd op die regte tyd van die jaar te laat inent. Dit sal nie 100% keer dat jou perd perdesiek kry nie, maar met die ent bou perde ’n weerstand op, sodat wanneer hy perdesiek kry en hy ingeënt is, sy kanse op oorlewing baie verbeter.”
“Jy kan ook jou perde beskerm deur hulle deur die nag te stal. Jy kan insekdoder in die stalle spuit. Jy kan ook insekafweermiddels, wat nie sitronella-olie bevat nie, op jou perd spuit. Maak seker jou perd se stal is oral mooi toe sodat muggies nie kan inkom nie en die perd is in die stal twee ure voor die son sak en twee ure nadat die son opgekom het.”
“Daar is twee vorme van perdesiek – dikkop en dunkop. Die twee kan gemeng wees ook. By die dunkop word perde baie vinnig siek en gaan baie vinnig dood. Perde wat dunkop kry, gaan 90% van die tyd dood. Hulle kry ’n baie hoë koors, sukkel om asem te haal, die bekke hang oop, die koppe hang, hulle wil nie eet nie en skuim kom by die neus uit. Die perde gaan skielik dood.”
“Die dikkop is nie so erg nie en ongeveer 50% van perde wat dit kry, gaan dood. Die simptome is ook koors, kop is geswel, oë kan swel, wil nie eet nie en party kan sukkel om asem te haal.”
“Hoe meer mens jou perd inent, hoe groter word sy weerstand teen perdesiek. Perde moet voor die lente ingeënt word.”
Wag vir terugvoer van staatsveearts
Volgens CFSPH is die siekte nie gevaarlik vir mense nie.
FiND iT het ‘n paar veeartse in die stad gekontak, maar almal het ons verslaggewer na die staatsveearts verwys. FiND iT wag tans nog vir terugvoer van die staatsveearts af.



