Warrenton-hospitaal weier glo om diabeet met abses te help

Deel hierdie storie / Share this story

WARRENTON. – Christelle de Beer (44), ’n diabeet, sukkel al vir vyf weke met ’n abses in haar kakebeen. Sy is glo Vrydag by Warrenton-hospitaal net Tramadol deur ’n dokter in die hand gestop en huis toe gestuur.

Omdat Christelle ’n diabeet is, is die abses lewensgevaarlik en kan sy enige tyd in ’n koma val.

LEES OOK: Moordverdagte kry R1 000 borg

Privaat dokter besoek vir mangelontsteking

Christelle sê sy het aanvanklik gedink sy voel so sleg omdat sy mangelontsteking het.

“’n Vriendin van my het vir die doktersafspraak betaal omdat ek dit eenvoudig net nie kan bekostig nie. Die dokter het vir my medikasie gegee, maar die probleem het net al hoe erger geraak. Nadat hy plate geneem het, het hy agtergekom daar is ’n abses in my kakebeen wat sal geopereer moet word.”

Die dokter het vir Christelle ’n verwysing na die staatshospitaal geskryf omdat sy nie ’n privaat operasie kon bekostig nie.

“R200 voor ons jou help”

“Hulle het redeneer dat as ek geld het vir ’n privaat dokter, kan ek vir die hospitaal se dienste ook betaal. Ek het oor en oor verduidelik dat ’n vriendin daardie kostes gedek het en dat ek nie geld het om die R200 te betaal nie.”

Sy het gesit en wag, maar was nie gehelp totdat haar vriendin ’n groot ophef begin maak het nie.” “Ek is toe in by die dokter, wat my net een kyk gegee het en Tramadol in my hand gedruk het. Hy het gesê ek moet huis toe gaan en dat hy ook nou gaan huis toe gaan.”

LEES OOK: iPhone wenk van die dag

Probleem raak al erger

Christelle vertel haar gesig bly net swel en die probleem raak net al erger. “Ek kan skaars regop sit. Ek voel bitter sleg. Ek weet nie waar anders om hulp te kry nie.”

Navraag

FiND iT het navraag by die departement van gesondheid gedoen en wag steeds vir terugvoer.