EGIPTE. – Gizzelle Uys, Mej. Eco Suid-Afrika, het onlangs in Egipte met die kroon vir Mej. Eco-internasionaal weggestap.
Die Mej. Eco-internasionaal-kompetisie is ’n kompetisie vir vroue met ’n passie om die planeet te red en keuses te maak wat beter is vir die omgewing.
Volgens GoodThingsGuy, bestaan die skoonheidskompetisie uit 17 dae in Egipte waar die vroue aan verskillende kulturele aktiwiteite deelneem terwyl hulle vir die finale geleentheid voorberei.
LEES OOK: Polisie soek vrou wat kan help met Piet Els-moordsaak
Eerste vir Afrika
Uys se wen is nie net ’n eerste vir Suid-Afrika nie, maar ook ’n eerste vir Afrika as geheel. Alhoewel die geleentheid in Afrika plaasvind, was daar nog nooit ’n wenner van dié vasteland nie.
Die sesde kroning van Mej. Eco-internasionaal 2020-’21 sou aanvanklik van 23 Maart tot 11 April 2020 plaasvind, maar is ongelukkig uitgestel weens die Covid-19-pandemie. Gelukkig het organiseerders dit steeds reggekry, maar teen ’n prys, aangesien sommige kandidate Covid-19 opgedoen het.
Keer binnekort terug
Na afloop van die geleentheid het Uys op Instagram haar sosialemedia-aanhangers verseker sy is veilig en sal binnekort terugkeer Suid-Afrika toe.



