LIMPOPO. – ‘n Leerling (15) van ‘n spogskool in Limpopo het glo Maandag haar lewe geneem ná sy vroeër die dag by die skool geboelie en aangerand is.
Die meisie was ‘n graad 10-leerling aan Mbilwi Secondary School in Sibisa.
Daar is ‘n video van die boelie-voorval op sosiale media rondgestuur en in die video is dit duidelik hoe ‘n leerling haar deur die gesig klap. Dit is ook sigbaar hoe ander leerlinge die geboelie met hulle selfone afneem en die boelie luidkeels aanmoedig.
Lees ook: Hartseer verhaal van 16-jarige Simoné se selfdood
In die video kan ook gesien word hoe ander leerlinge die boelie van die leerling af probeer weghou.
Die video is op Twitter geplaas.
Polly Boshielo, LUR van onderwys in Limpopo, het die voorval ten sterkste veroordeel.
Boshielo het gesê die meisie is intussen dood, maar dat hulle nog nie die oorsaak van haar dood kon vasstel nie. Gemeenskapslede en leerlinge van die skool het gesê dit is geen geheim dat sy na skool haar eie lewe geneem het nie.
Lees ook: Kby-man sak in mekaar en kry aanval in ry vir water
Mmusi Maimane, voormalige DA-leier, het ook op Twitter gesê so ‘n voorval is ‘n ouer se grootste nagmerrie en dat dit hartverskeurend is. “Geen skool in ons land behoort ‘n geboelie in enige vorm toe te laat nie.”
Daar is ook intussen gevra dat enigeen wat ‘n donasie wil maak om die oorlede meisie se familie te help om ‘n begrafnis te kan bekostig, dit aan haar ouer suster oorbetaal.



