April 18, 2021

Kleurvolle, helder en lewendige kuns vir die siel

Kleurvolle, helder en lewendige kuns vir die siel

Kleurvolle, helder en lewendige kuns vir die siel

KIMBERLEY. – Andrè de Vries (40) sê dit maak hom opgewonde om te weet sy kleurvolle, helder en lewendige kunswerke hang in mense se huise. Wat eers begin het as ’n lockdown-projek saam met sy kinders, het ontaard in pragtige kunstukke wat hy die naweek vir die eerste keer sal uitstal.

Andrè, ’n eens bekende fotograaf van die stad, het in Bloemfontein grootgeword, maar bly al die afgelope 16 jaar in Kimberley. Hy is baie gelukkig getroud met sy vrou, Andriette. Die paartjie het vyf kinders.

LEES OOK: Vrou skiet op Burger King-personeel omdat sy glo te lank wag

Skilder vir agt maande

As voltydse pastoor, bedryf hy ook ’n Bybelskool en het maar agt maande gelede begin skilder.

“Ek het tydens die inperking besluit om vir my kinders kunsgoed te koop en het saam met hulle met pastelle begin speel. Ek het so baie daarvan gehou dat ek en my vrou saam begin kunsklasse neem het. Dit is in die kunsklas wat ek vir die eerste keer ’n verfkwas opgetel het.”

Alhoewel hy nog nooit vantevore geskilder het nie, gebruik hy nou net akrielverf en ’n paletmes.

Fotografie dra by tot kreatiwiteit

“Ek het nog altyd fotografie vreeslik geniet.”

Andrè vertel hy het fotografie destyds opgegee om voltyds in die bediening in te gaan.

“Ek glo fotografie het my vir seker gehelp ten opsigte van komposisie. Hoe om iets op die canvas aanmekaar te sit. Om iets goeds te identifiseer. Om te weet of dit gaan werk of nie.”

Eers nie maklik nie

“Aan die begin was dit vir my redelik moeilik en het dit my baie frustreer. Ek is bietjie van ’n perfeksionis en sodra ek iets nie reggekry het nie, het ek vir myself half vies geword.”

“Ek het vroeg in my lewe geleer dat as jy iets graag wil hê, jy bereid moet wees om hard te werk daarvoor. Ek het deurgedruk en het begin deurbrake kry.”

LEES OOK: Gastehuiseienaar in hegtenis in verband met paartjie se dood

Eerste kunswerk word gekoop

“Die grootste deurbraak en boost vir my was toe dr. Phillip Anderson die heel eerste skildery by my gekoop het. Hy het die skildery op Facebook gesien en my gekontak. Hy het die heel eerste olifant wat ek geverf het vir R3 000 gekoop.”

Meer mense het hom begin kontak en hy het in Desembermaand alleen ses kunstukke verkoop.

Om ’n groot projek te voltooi

“Ek het altyd saans, soos enige gewone mens, gelê en series kyk. Ek het eintlik net my eie tyd gemors en het niks om daarvoor te wys nie. Waar ek nou saans ’n uur of twee gebruik om ’n projek te voltooi, voel ek die volgende dag goed en ek het iets om te wys daarvoor.”

“Dit voel wonderlik wanneer ek ’n groot projek klaarmaak. Jy voel verlig. Excited. Jy kan nie wag om vir die wêreld te wys nie.”

“Ek het myself al vir 12 ure in my klein ateljee toegesluit en net aan een projek aandag gegee. Ek het nie uit die ateljee gekom todat dit klaar was nie.”

Gaan nie voltyds skilder nie

Andrè sê hy skilder net saans en beplan nie om voltyds te begin skilder nie.

“Ek sal nie voltyds skilder nie. Ek is baie erg oor die bediening. Die Here het my uit fotografie uit geroep om voltyds in die bediening in te gaan. So om vir die Here te werk, sal altyd nommer een wees. Kuns is ’n uitlaatklep, ontspanning en om ander mense wat die kunswerke koop gelukkig te maak.”

Grootste doelwit

“Die grootste doelwit wat ek wil bereik, is in my gesin, huwelik en bediening. Die kuns geniet ek net. ’n Groter deel van die kuns se inkomste gaan weer in die bediening in. Mens kan meer in die bediening doen met ’n goeie inkomste. Meer deure oopmaak. As die kuns net dit doen, sal dit wonderlik wees. Ek wil ook geluk aan mense deur my kunswerke bring.”

Die naweek se uitstalling

Dit is ’n baie groot eer om deel te wees van die uitstalling wat die naweek plaasvind. Die uitstalling word deur Yolandie Ford gereël. Dr. Phillip Anderson het my in kontak gesit met haar en sy het my gevra om by die uitstalling betrokke te raak.”

“Die uitstalling in ’n baie goeie geleentheid vir kunstenaars in Kimberley om blootstelling vir hulle werk te kry.”

Raad aan ander

“Jy gee nie op nie. Druk deur. Louis de Kock van Wildeklawer het eendag in sy kantoor vir my gesê : ‘As jy ’n ding gaan doen, doen dit ordentlik.’ Dit het vir my baie beteken. Probeer om dit toe te pas. Gee jou alles.”

Die kunsuitstalling vind die naweek van 9-10 April by Bliss Coffee in Roperstaat plaas.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

%d bloggers like this: