April 18, 2021

10 jaar gelede: grusame Welkom-moord

Michael is nooit weer gesien nie en hy het nie die volgende oggend opgedaag vir werk nie.

10 jaar gelede: Grusame Welkom-moord

10 jaar gelede: Grusame Welkom-moord

Op 2 April was dit presies 10 jaar gelede wat Michael van Eck (23) sy familiehuis verlaat het om ’n meisie wat hy op MXIT leer ken het, te gaan ontmoet. Vir sy ma het Michael gesê hy en die meisie gaan fliek. By sy werk, waar hy pas ’n internskap as ’n elektrisiën by die Beatrix-goudmyn begin het, het hy gesê hy gaan ’n meisie by die begraafplaas ontmoet wat hy oor 2Go leer ken het.

LEES OOK: Surrogaatma word swanger met eie baba terwyl sy paartjie se baba dra

Nie opgedaag vir werk nie

Michael is nooit weer gesien nie en hy het nie die volgende oggend vir werk opgedaag nie. Die polisie is in kennis gestel en het die Van Eck-gesin na die begraafplaas vergesel waar hulle ‘n T-hemp as hulle seun s’n geïdentifiseer het.

Sy motor, met die sleutels nog binne, is in die dorp gevind. Kolle bloed is al langs die kerk in die begraafplaas gevind.

Liggaam in vlak graf gevind

Michael se kaal liggaam, sonder ’n kop, regterarm en linkervoet is Sondag 3 April 2011 in ’n vlak graf in die begraafplaas gekry. Sy bebloede denim was bo-op sy liggaam gegooi.

Samewerking met kundiges, waaronder die Valke in Bloemfontein en Welkom-speurdienste, het owerhede na die woonstel van Maartens van der Merwe (toe 24) en Chané van Heerden (toe 20) gelei.

Liggaamsdele in erf, gesig in yskas

Michael se afgesnyde arm en voet, sy kop en die oorblyfsels van katte, is in die tuin van die woonstel begrawe gevind.

Michael se gesig, wat van sy kop gestroop was, met twee ore wat in ‘n bottel water geplaas is, is in die yskas van die paartjie gevind.

Maartens en Chané is kort daarna in hegtenis geneem. Wat mense, insluitend Michael se familie, die meeste geskok het, was Chané se gebrek aan berou.

Sal dit weer doen

Toe Michael se pa Chané gesmeek het en gevra het hoekom sy sy seun so wreed vermoor het, het sy baie kalm geantwoord: “Dit was iets wat ek al wou doen vandat ek drie jaar oud is. Ek wou dit doen. Ek het dit gedoen en ek sal dit weer doen.”

Gevonnis

Maartens is tot lewenslange tronkstraf gevonnis en sy appèl is later afgekeur.

Chané moet 20 jaar effektiewe tronkstraf uitdien voordat ‘n paneel haar sal evalueer om te sien of sy bevoeg sal wees vir die samelewing. Indien nie, sal sy die res van haar dae in die tronk deurbring.

LEES OOK: Vier maande oue baba dood nadat hond glo op haar lê

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

%d bloggers like this: