KALIFORNIË. – ‘n Vrou (50) en haar man (52) het sewe boeties en sussies se verwagtinge oortref toe hulle die sewe aangeneem het na beide hulle ouers in ‘n motorongeluk dood is.
Pam Willis sê sy het deur Facebook geblaai toe sy lees van sewe kinders wat ‘n huis nodig het.
Toe reeds in pleegsorg
Die kinders, almal tussen die ouderdomme van 1 en 12 jaar oud, was toe reeds vir ‘n jaar in pleegsorg na beide hulle ouers in ‘n motorongeluk oorlede is.
“Ek kan dit nie beskryf nie, ek het net geweet ek moet hulle ma wees,” vertel Willis aan TODAY Parents.
Die 50-jarige Willis het haar man, Gary, “getag” in die plasing sodat hy dit kon sien. Die paartjie het toe reeds vyf volwasse kinders gehad.
“Ek het gedink Gary gaan vir my sê ek is van my sinne beroof en dat ons reg is om af te tree,” vertel sy. “Maar tot my verligting het Gary presies dieselfde as ek gevoel.”
Lees ook: Vrou gee voor sy’s dood en oorleef só hoewe-aanval
Reeds duisende oproepe
Die egpaar het toe besluit om die nommer onderaan die artikel te bel. “Daar is vir ons gesê dat hulle reeds duisende oproepe ontvang het.”
Maar twee maande later is die sewe kinders, Adelino (15), Ruby (13), Aleecia (9), Anthony (8), Aubriella (7), Leo (5), en Xander (4) aan hulle sorg toevertrou.
Deur baie trauma
Willis sê sy het besef die kinders is deur baie trauma. Hulle ouers het met verslawing gesukkel, hulle was arm en daar was min kos.
“Dit was maklik om na aan die kleintjies te kom. Hulle was net op soek na iets permanents in hulle lewe.”
Die ouer twee was ‘n bietjie moeiliker. “Dit was asof hulle bang was ons gaan weg, asof hulle gedink het ons is nie regtig nie.”
“Hulle het ons ‘n tweede kans op ouerskap gegee, en ons gee vir hulle ‘n tweede ma en pa. Hulle is ons Second Chance 7!”
Lees ook: Koopmansfontein-ongeluk: Vriende stop glo vir skilpad voor trein hulle tref



