April 19, 2021

Vrou gee voor sy’s dood en oorleef só hoewe-aanval

“Die vierde koeël was vir haar kop bedoel, maar haar gebede is verhoor. Dit het slegs ‘n skraapwond op haar kop gelaat.”

Vrou oorleef hoewe-aanval oor sy voorgee om dood te wees (Foto's: Corlene van Wyk, Facebook)

Vrou oorleef hoewe-aanval oor sy voorgee om dood te wees (Foto's: Corlene van Wyk, Facebook)

HOUTKOP. – Die 42-jarige Corlene van Wyk is ernstig beseer en vir dood agtergelaat toe sy op 15 Maart deur twee mans op haar kleinhoewe Jakkalsrand aangeval is.

Van Wyk het die aanval egter oorleef en word tans in die Netcare Unie-hospitaal behandel. Sy het haar vordering oor die afgelope paar weke op Facebook gedeel.

Deel van statistiek

“Ek het eergister ook deel geword van die plaasaanval-statistiek,” lui een van haar inskrywings.

Lees ook: Koopmansfontein-ongeluk: Vriende stop glo vir skilpad voor trein hulle raakry

“Toe sy wou gaan kyk of die wasgoed droog is, het twee mans haar oorrompel. Terwyl een van die twee mans haar buite die huis aangerand het, is die ander een deur die huis,” vertel Jorinda Laubscher, Van Wyk se suster, aan Carletonville Herald. “Toe die man uit die huis uit kom, het hy na haar gestap en haar in die been geskiet. ‘n Tweede en ‘n derde skoot is afgevuur en sy is in die hand geskiet. Die vierde koeël was vir haar kop bedoel, maar haar gebede is verhoor. Dit het slegs ‘n skraapwond op haar kop gelaat.”

Gebruik bebloede hand

Volgens Laubscher het Van Wyk ná die vierde skoot haar bebloede hand oor haar kop gehou en doodstil gelê om haar dood te veins. Die mans het toe klaarblyklik gedink sy is dood en gevlug sonder om enigiets te steel.

Van Wyk, wat gedurende die aanval alleen by die huis was, het toe haar man gebel en gesê sy het hulp nodig. Sy is kort daarna in die hospitaal opgeneem waar sy steeds behandeling ontvang.

Lees ook: Seuntjie kry ernstige brandwonde toe hy in kookwater beland by kleuterskool

Steeds in die hospitaal

Een van haar laaste plasings op Facebook lui: “Ek lê nogsteeds in die hospitaal. Baie teleurgesteld en hartseer. Die professor het my ontslaan, maar my ander dokter wil my oorplaas na ‘n ander hospitaal vir verdere aansterking, terapie ens.”

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

%d bloggers like this: