KYK: Video wys man by Witrivier-polisiekantoor geslaan en rondgesleep
Hierdie voorval het glo op 28 Maart 2021 omstreeks 11:30 plaasgevind.

KYK: Video wys man by Witrivier-polisiekantoor geslaan en rondgesleep Foto:Skermgreep
NELSPRUIT. – Die video wat wys hoe ‘n man by die Witrivier-polisiekantoor deur verskeie mans geslaan en rondgesleep word terwyl sy meisie skree en vra om hulp, het ‘n klomp Suid-Afrikaners met vrae en woede gelaat.
“Die polisie in Mpumalanga neem kennis van die video wat tans op sosiale media gedeel word. In die video is individue in ‘n fisiese onderonsie by die Witrivier-polisiekantoor betrokke. Hierdie voorval het glo op 28 Maart 2021 omstreeks 11:30 plaasgevind,” sê brig. Leonard Hlathi, polisiewoordvoerder.
Video wys man en bakleiery
Die polisie sê verder in die verklaring die voorval toon die wetteloosheid van die betrokke individue, aangesien ‘n polisiekantoor nie ‘n gevegsterrein is nie.
Hlathi sê: “Die optrede van die mense wat in die bakleiery betrokke was, is onaanvaarbaar.” Die polisie versoek dat die man wat op die video verskyn, wat op die grond gedruk word, ‘n saak vir ondersoekdoeleindes registreer.
Saak word deur polisie ondersoek
Die distrikskommissaris van Ehlanzeni, genl.maj. Dianah Mashele, het dadelik aan die saak aandag gegee. ‘n Span is onder leiding van twee senior polisiebeamptes op die been gebring om hierdie saak departementeel te ondersoek. Die gedrag van die polisielede wat daardie dag aan diens was, sal ondersoek word.
‘n Strafregtelike saak van kwaadwillige saakbeskadiging is geopen teen die man wat platgedruk is omdat hy daarvan beskuldig word dat hy glo teen ‘n sekere voertuig gebots het en na bewering rasse-uitlatings gemaak het.
Navrae word deur die polisie gedoen met die doel om gedetailleerde inligting oor die aangeleentheid te bekom.
LEES OOK: Swanger vrou en dogter gevind
Volg FiNDiT hier vir die nuutste nuus.